Riool-ratte werk nie

Ria Wells
LEPHALALE — Klagtes doen al ‘n geruime tyd die ronde rakende die ‘gholfbaanwater’ wat blykbaar nie altyd na behore gesuiwer word nie. Riool is veronderstel om by die Paarl-rioolwerkaanleg gesuiwer te word waarna dit huiseienaars aangrensend tot die gholfbaan dit uitsluitlik kan gebruik om hul tuine nat te lei. Mogolklub se gholfbaan en ander tuine is ook afhanklik van dié water. As dié water behoorlik gesuiwer word behoort dit nie gevaarlik of skadelik te wees vir mens, dier of die ekologie nie.
Mogol Pos het gaan ondersoek instel en vasgestel dat die huise aangrensend tot die gholfbaan die week voor verlede week vir ‘n week lank nie water gehad het nie.
Personeel van Mogolklub het die setperke van die gholfbaan met tuinslange natgemaak, aangesien die Maroelabeker-gholftoernooi tydens die Bosveldfees vanaf 13 tot 15 Julie gespeel word.
Mogol Pos het ‘n draai by die Mogolklub se werskwinkel gemaak en ‘n ontstoke Francois Badenhorst, geboue- en instandhoudingsbestuurder, aangetref. Badenhorst sê hy het die vorige week ‘n draai gemaak het by die klub se kleiner wateraanleg en toé reeds besef daar is groot fout. “Dit het gelyk of die groot pype uitmekaar gaan skud”. Hy het onmiddellik die beheerkamer gekontak om die watertoevoer vanaf Paarl te staak en ‘n herleipyp oopgemaak. ‘n Dik stroom taai, swart riool het by die pyp uitgestroom (dit is duidelik sigbaar op bygaande foto).
Gerugte dat die Paarl-rioolaanleg glad nie optimaal werk nie en dat rioolwater wat nie in die dorp gebruik word nie, bloot afvloei na die Mogolrivier is lankal ‘n onderwerp van bespreking. Miskien vertel die vreeslike rioolreuk in OR Tamborylaan die presiese verhaal van die haglike toestand van die dorp se rioolwerke.
Mogol Pos het die munisipaliteit reeds Dinsdag 27 Junie genader oor die voortslepende probleem, maar teen druktyd was die stilte van hulle kant af steeds oorverdowend.
Intussen het die klub bevestig dat die Munisipaliteit wel aandag aan die probleem gegee het en dat water tans beskikbaar is.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.