Rioolwater — inwoners sien rooi

Incledon se rioolprobleem was teen Dinsdagmiddag nog nie opgelos nie
Incledon se rioolprobleem was teen Dinsdagmiddag nog nie opgelos nie

Leoni Kruger
LEPHALALE — En die riool loop voort. Ontstoke inwoners van Soetdoringstraat in Onverwacht het Mogol Pos se kantore verlede Woensdag uit radeloosheid geskakel nadat riool by die mangate in hulle erwe en ook by die toilette in hul huise uitgeborrel het. Hulle kon nie hulle troeteldiere by die huis laat uitgaan nie uit vrees dat hulle van die water sal drink. Die stank was ondraaglik. Die situasie onaanvaarbaar.
Op 18 Maart was die situasie selfs nog meer haglik. Van die inwoners is self na Lephalale Munisipaliteit (LM) en die munisipaliteit het gereël dat die riool deur die loop van die naweek by die pompstasie by Palala uitgepomp sou word. Dinsdag 22 Maart het die rioolwater egter weer by die mangate uitgestroom nadat dit die hele naweek onder beheer was. Die inwoners het die munisipaliteit se noodnommer geskakel en hulle is verseker dat die probleem opgelos sal word.
Mogol Pos kon Dinsdagmiddag teen 15:00 niemand by die munisipaliteit telefonies in die hande kry nie en die rioolwater het reeds by die inwoners se inritte afgestroom. By navraag later in die week het dit geblyk dat die probleem wel opgelos is.
Dinsdagoggend 29 April het die rioolwater egter weer op die perseel van Incledon in die ligte industriële gebied by mangate uitgestroom. Volgens Michelle Harding, besturende direkteur van Incledon was dit duidelik dat dit ook gedurende Paasnaweek die geval was, want die droë opdrifsels van rou riool was oral sigbaar. Een van die grootste probleme by Incledon is dat dit vir kliënte onmoontlik was om by hulle voertuie uit te klim, want die hele parkeerarea voor die gebou was onder rioolwater.
Mogol Pos was Dinsdag in gesprek met Astrid Basson, raadslid by die munisipaliteit en volgens haar het sy self gesien hoe die pomp in Hendrik Pistoriusstraat in die ligte industriële gebied bietjie meer as ‘n week gelede vervang word met ‘n nuwe pomp. Die verskaffers van die pomp het dit self geïnstalleer. En net meer as ‘n week later stroom die rioolwater weer oral uit.
Mogol Pos het vertroulik verneem dat daar sowat sewe pompe in die Lephalale-area buite werking is en vervang moet word. Die vraag is nou net – is dit die stukkende pompe wat die probleem is, of is die probleem veel groter en ernstiger as wat daar voorgehou word?
‘n Munisipale Raadsvergadering sou Woensdag by LM gehou word waar onder meer die rioolkwessie aangespreek sou word. Teen druktyd was die vergadering steeds aan die gang. Die uitslag van die raadsvergadering sal in ‘n volgende uitgawe bekendgemaak word.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.