Rioolwerke gemors

VAALWATER — Vaalwater Rioolwerke, geleë tussen die Vaalwater dorpsgebied en die Spar sakesentrum is vir baie inwoners ‘n groot bron van kommer.
“Rou, ongefilterde riool loop daagliks in die Mokolorivier in en dit is nog nie eers reënseisoen nie. Ek wil nie eers dink aan die hoeveelheid probleme wat die riool in die somermaande gaan veroorsaak nie,” sê Rika van Staden.
Die Van Stadens se plaas grens aan die rioolwerke, dus word hulle daagliks gekonfronteer met die reuk en rioolstorting.
Tracy Cleet, nog ‘n inwoner, sê hulle stuur reeds vir ‘n geruime tyd – ‘n hele aantal maande – e-posse na Modimolle Munisipaliteit, waarin hulle hul bekommernisse uiteensit en foto’s aanheg om dit te staaf. Sy sê daar word egter niks gedoen aan die riool wat in die rivier vloei nie. “Die riool vloei ook by die pype uit en oor die damme se walle. Ons is verskriklik bekommerd oor die omgewingsimpak van die rou riool, om nie eens te praat van die reuk nie” sê sy verder.
Patrick Shika, woordvoerder van die Modimolle Munisipaliteit, het Dinsdagoggend 16 Augustus vir Mogol Pos gesê dat hulle bewus is van die probleem en dat hulle besig is om daaraan te werk.
Volgens hom is die grootste probleem dat kriminele die kabeltoevoer na die rioolwerke steel; gevolglik kan die rou riool nie behoorlik filtreer nie en hulle kan ook nie die sproeiers gebruik om die rioolwater uit te spuit nie.
“Ons vra die inwoners van Vaalwater om asseblief die kliëntedienslyn (014 178 2004) in Modimolle te skakel en enige klagtes direk te rapporteer” sê Shika. Hy het beklemtoon dat daar uitdruklik genoem moet word dat die probleem in Vaalwater is. Inwoners van Lephalale en al die plase Noord van Vaalwater is afhanklik van die Mokolorivier se water vir huishoudelike gebruik.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.