Roekeloos en nalatig

Carel in die Ellisras Distrikshospitaal

LEPHALALE — Die 20-jarige Carel Boshoff van Lephalale is Saterdag 5 Oktober omstreeks 16:00 ernstig beseer toe die bestuurder van ’n taxi na bewering oor ’n rooi verkeerslig by die Mogolklub-kruising gery en gebots het met Boshoff se Honda CRF R motorfiets. Boshoff was op pad na Appelblaarstraat in Onverwacht.

Volgens Boshoff kan hy nie regtig onthou wat gebeur het nie, hy weet van die slag en daarna het hy vir die eerste keer in die hospitaal wakker geword. Ooggetuies het vir hom vertel wat gebeur het en dat die bestuurder van die ander voertuig oor die rooi verkeerslig gery het.

X-strale het gewys sy arm is gebreek, en hy het baie pyn in sy rug en skouer.

Mogol Pos het Dinsdag met hom gepraat waar hy steeds in die Ellisras Distrikshospitaal vir terugvoer vanaf ’n ortopeed en beskikbare bed in Mokopane Provinsiale Hospitaal gewag het. Volgens hom het die plaaslike dokter ’n e-pos gestuur na ’n ortopeed in Mokopane en wag hulle vir terugvoer sodat hy geopereer kan word.

Volgens sy ma, Nellie, moet hy plate in sy arm kry.

’n Saak van roekelose en nalatige bestuur is teen die bestuurder van die taxi geopen by Lephalale SAPD.

Die saak word ondersoek.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.