Roekeloos en nalatig

Die bestuurder van dié Isuzu het blykbaar Saterdag ‘n groot botsing veroorsaak
Die bestuurder van dié Isuzu het blykbaar Saterdag ‘n groot botsing veroorsaak

Leoni Kruger
LEPHALALE — Drie mense is Saterdag ernstig beseer in ‘n botsing in Nelson Mandelarylaan naby die Lephalale Mall.
Volgens Allen Steenekamp het sy rondom 19:00 vanaf rigting Mogolklub gery toe die bestuurder van ‘n silwergrys Isuzu dubbelkajuitbakkie na bewering teen ‘n spoed vanaf rigting Lephalale oor die helfte van haar baan “aangejaag” gekom het. Allen sê sy het op haar toeter gelê en moes uitswaai om ‘n botsing te vermy en sy reken die bestuurder het ten minste 100km/h gery. Agter haar het ‘n blou VW Polo gery met twee insittendes wat nie betyds kon uitswaai nie en wel deur die Isuzu getref is. Agter die Polo was ‘n wit bakkie, waarin Theunis du Plessis gery het, wat ook deur die Isuzu getref is.
Volgens adjudant-offisier Frans Mokoena, Lephalale polisiewoordvoerder, is beide insittendes van die Polo (hulle name was nie aan die polisie bekend nie) asook Du Plessis ernstig beseer in die botsing.
Volgens Steenekamp, wat op die toneel was, was die bestuurder van die Isuzu ooglopend aangeklam en het hy loop en vertel dat daar “niks van die voorval sal kom nie, want hy is ‘n bestuurder by staalwerke”. Steenekamp het verder gesê dat daar kort na die voorval ‘n wit minibus en ‘n wit dubbelkajuitbakkie by die toneel opgedaag het wat duidelik aan die bestuurder van die Isuzu bekend was en hulle het drankbottels uit die Isuzu oorgelaai. Volgens haar het hulle ook die bestuurder van die Isuzu se beursie met lisensiekaart gevat waarna hulle hom opgelaai en weggery het. Volgens ‘n ander ooggetuie wat anoniem wil bly, is die bestuurder van die Isuzu van die toneel verwyder voordat die polisie hom kon ondervra of enige bloedtoetse gedoen kon word om sy bloedalkoholvlakke te toets.
Die polisie het na bewering gesê hulle sal die saak die volgende dag (Sondag) opvolg.
Dit is onduidelik wie die Isuzu van die toneel af verwyder het. Die registrasienommer van die Isuzu, wat ook aan die polisie bekend is, is DGJ 192L.
Volgens adjudant-offisier Frans Mokoena, Lephalale polisiewoordvoerder, kan die polisie nie bloed laat trek as die persoon baie bloed verloor het nie. Die bestuurder van die Isuzu het volgens die polisieverslag net geringe beserings opgedoen. A.O. Mokoena het aan die Mogol Pos bevestig dat daar wel ‘n saak oopgemaak is, maar hy kon nie sê watter saak is oopgemaak nie. Die saaknommer is 237/04/2016.
Al drie beseerdes was teen druktyd steeds in die hospitaal.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.