Rookwolk maak amok

HW__6669

Leoni Kruger
LEPHALALE — ‘n Dik swart rookwolk in die vlei naby Gompoustraat (op Schaapplaats) het inwoners van Lephalale Maandagmiddag baie benoud gemaak.
Die bemanning van noodradiokanale moes bontstaan om alle vrae te antwoord en mense gerus te stel. Die brandweer en beide brandspanne van Eskom was vinnig op die toneel. Honderde mense het ook by die toneel opgedaag om te kyk wat gebeur.
Chris Booysen, mede-eienaar van Schaapplaats, wou nie uitbrei oor die oorsaak van die brand nie, maar hy het wel aan Mogol Pos bevestig dat die brand aanvanklik elders ontstaan het en versprei het na Schaapplaats. Volgens Booysen is dit die palmietriete wat die donker rookwolk veroorsaak het en hy sê gerugte dat dit vervoerbande (conveyor belts) is wat aan die brand gesteek is, is onwaar.
Geen lewens of eiendomme was direk in die voorval bedreig nie – die ergste skade was die rook en roet wat in nabygeleë woonplekke ingewaai het en die ongemak daarvan.
Lesers word daarop gewys dat dit tans onwettig is om enige voor- of ander brande te maak, aangesien die brandseisoen duur vanaf 1 Junie elke jaar totdat die eerste 20 mm reën in ‘n area geval het.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.