Rugbyfonds styg fenominaal

IMG_2945

Ria Wells
LEPHALALE — R100 000. Of amper. Dit is hoeveel Hoërskool Ellisras ingesamel het met hul Bees-loting. Kaartjies teen R50 het soos soetkoek verkoop en Vrydag 24 Julie is daar saamtrek gehou by Tamboti Toyota vir die groot aankondiging.
Ondersteuners het al van vroegdag af gekuier, geëet en fees gevier en terselfdertyd die splinternuwe Toyota Fortuner van alle kante bekyk.
Fanus du Plessis van Beam Electrical en Martin Verwey het almal vir hul ondersteuning en lojaliteit teenoor Hoërskool Ellisras bedank. Die hele idee van die lotery was om die skool op ‘n nuwe en vars manier te bemark en die ouers sowel as die gemeenskap betrokke te kry by veral die rugby, die hoofrede waarom die lotery gehou is. Hulle wil graag sien dat hierdie ‘n tradisie word en dat ‘n hernieude trots teenoor die hoërskool bewerkstellig word. Twee jaar gelede was die o.14-span die naaswenners en die o.16-span die wenners van die Beeldtrofee. Verlede jaar was die o.15-span die Beeldtrofeewenners en hierdie jaar staan die o.14- sowel as die o.16-span ‘n baie goeie kans om deur te dring na die uitspeelwedstryde van die Beeldtrofee wat in Augustus en September plaasvind. Die geld wat ingesamel is sal dan aangewend word om rugby by EHS in geheel te bevorder.
‘n Suksesvolle veiling is deur At Vermaak gehou wat die fondse ‘n verdere hupstoot gegee het. ‘n Lasher-kruiwa vol drinkgoed met ‘n hark en spitgraaf het amper R10 000 op die veiling behaal. Die veiling was ook ‘n goeie bewys van die goedgesindheid van die gemeenskap teenoor die skool.
Die groot oomblik het aangebreek toe mnr Louis Campbell, skoolhoof van EHS, die trekking gedoen het. Die eerste prys van ‘n slagbees en –skaap was kaartjie nommer 6502 van Lhea Bezuidenhout. Martin Schoeman het sy vrou, Nadine, se tweede prys – twee koedoes en twee rooibokke – met ‘n groot glimlag in ontvangs geneem. Die derde prys het gegaan aan Danie Erasmus met kaartjie nommer 2843 wat naweekverblyf by Fahad Game Reserve insluit en Alwyn Raaths was die wenner van die vierde plek – ‘n koedoe en twee rooibokke. Casper Nortjé het sy dogter Marni se vyfde plek – twee slagskape en ‘n slagvark – in ontvangs geneem. Leanie van der Merwe het die sesde prys – ‘n blouwildebees en ‘n rooibok – gewen en AMF Venter die sewende prys – ‘n koedoe en ‘n rooibok.
Boekies met R50-kaartjies is opgeveil en Dries du Preez het ‘n rooibok gewen met bod vier.
Die rugbykomitee en EHS het al die borge van harte bedank vir die groot pryse, asook die persone wat so fluks kaartjies gekoop en sodoende gesorg het dat ‘n fenominale bedrag ingesamel is.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.