Rusverstoring ruk hande uit

Leoni Kruger
LEPHALALE — Daar is geen reëls wat gevolg word rondom rusverstoring in die dorp nie. Dié stelling word elke maand by die GPF-vergadering aangespreek, maar dit word klaarblyklik nie opgelos of uitgesorteer nie.
‘n Inwoner van die Rietfonteinplotte het Maandag met Mogol Pos gepraat en gesê daar is ‘n lodge naby hulle huis en die geraas is veral naweke ondraaglik. “Die musiek en geraas hou aan tot 03:30 op ‘n Sondagoggend. Niemand kan dit hou nie” sê hy.
Volgens hom geld dieselfde geraasprobleme vir die inwoners van die Arenite Heights woonstelle naby Ellisras Provinsiale Hospitaal.
Volgens adjudant-offisier Frans Mokoena, Lephalale polisiewoordvoerder, is dit teen die munisipale regulasies om saans ná 22:00 te raas in bewoonde areas. Hy sê egter in die geval van ‘n lodge of kuierplek mag alkohol bedien word tot 02:00 in die oggend en gevolglik kan daar langer gekuier en geraas word.
Mokoena sê daar is drie dinge wat inwoners kan doen in gevalle van rusverstoring, naamlik die klaer moet self na die oortreders gaan en hulle vra om nie te raas nie. Indien dit nie help nie en die geraas duur voort, moet die polisie geskakel word om uit te gaan na die toneel. Die klaer kan ‘n amptelike saak van rusverstoring by die polisie open.
Mokoena sê hy weet die oortreders kan beboet word vir oortreding van munisipale regulasies, maar hy kon die bedrag van die boete bevestig nie. Hy het verder aanbeveel dat klaers daarop aandring om direk met die “Cluster” bevelvoerder, brigadier John Masia te praat.
Thys Eloff, voorsitter van die GPF in Lephalale sê daar is ‘n wesenlike verskil tussen geraasversteuring en geraasbesoedeling en niemand behoort verhoed te word om in rus en vrede te bly nie. Hy sê daar is nie spesifieke tye wanneer mense ander se rus “mag” versteur nie. “Alhoewel alkohol tot 02:00 by gelisensieerde kuierplekke verkoop mag word beteken dit hoegenaamd nie dat mense tot 02:00 in die oggend kan geraas maak en ander se rus versteur nie. Dit is ‘n oortreding en moet vervolg word” sê Eloff.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.