Samaritaan beroof

VAALWATER — Ingrid Vos (63) het Vrydag 29 Januarie ʼn goeie daad probeer doen deur twee rylopende vroue op te laai.
“Ek doen dit nie gereeld nie, maar ek was Vrydag onderweg van ons plaas op die Visgat-grondpad na Lephalale, toe ek besluit om twee goed geklede vroue wat langs die pad gestaan het op te laai,” sê Vos.
“Eers het ek ʼn vrou van die buurplaas ʼn geleentheid gegee tot by die teerpad. Sy het net voordat ek haar afgelaai het, gevra of ek miskien vir haar ʼn R10-noot kan ruil vir twee R5-muntstukke. Ek het my beursie uit my handsak gehaal en kon haar gelukkig help, daarna het ek my beursie sommer so los voor in die kar gesit,” sê Vos.
Sy het kort nadat sy op die R33 na Lephalale gedraai het, gestop om die rylopers op te laai. Hulle wou glo graag Lephalale toe gaan.
“Die vroue het beide verskriklik goed Engels gepraat en was omtrént praterig in die kar, het ge–oe en ge-aa oor alles wat ek gesê het. Hulle het na ʼn ruk ewe skielik vreeslik opgewonde in Sepedi begin praat, so hard dat ek hulle naderhand moes vra om sagter te wees,” vertel ʼn ontstoke Vos, “net voor die afdraai van die Witkoppad het die vrou wat agter my gesit het, kliphard en aanhoudend geskree dat ek moet stop. Ek het groot geskrik, gedink daar is iets ernstig fout en dadelik rem getrap. Ons koppe het letterlik geruk toe ons tot stilstand kom.”
Voordat Vos haar oë kon uitvee het beide vroue uit die kar gespring en in die bosse verdwyn. “Ek het gedink hulle is darem verskriklik ongeskik om nie eers totsiens of dankie te sê vir die saamrygeleentheid nie.”
Nie lank nadat sy haar twee passasiers afgelaai het nie, het Vos besef haar selfoon is vermis. “Ek het begin rondsoek in die kar en het naderhand gestop en my handsak agter die sitplek uitgehaal. Daar was niks in nie, hulle het letterlik alles uit my handsak asook alles vanaf die voertuig se agtersitplek af gesteel! Ek kon dit nie glo nie, tot ʼn rol toiletpapier wat vir noodgevalle daar gelê het, was weg!,” het ʼn woedende Vos gesê.
“Ek het dadelik omgedraai toe ek besef ek is beroof en het op die plek waar ek die vroue afgelaai het begin soek na my gesteelde goed, asook die twee verdagtes. Ek het lank daar op en af gery om te sien of hulle nie weer ʼn saamrygeleentheid by ʼn ander voertuig probeer kry nie. Hulle het soos mis voor die son verdwyn. Ek het gelukkig besef my beursie het steeds voor in die motor gelê, maar tot my leesbril was uit my handsak gesteel.”
Daar was wel ʼn wielsleutel wat agtergebly het op die agtersitplek en Vos sê sy is baie dankbaar dat sy nie ʼn hou teen die kop daarmee gekry het nie.
Sy sê dat sy nooit weer die fout sal maak om rylopers op te laai nie, al lyk hulle baie ordentlik en goed aangetrek.
Vos en haar man, Nico, woon reeds 18 jaar in die Vaalwater-omgewing en sê dat hulle nog nooit voorheen so-iets beleef het nie, maar dat dit hulle baie negatief maak oor Suid-Afrika en sy mense.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.