Santa groet na 24 jaar

Santa Huyman
Santa Huyman

ALMA — Santa Huyman het op 3 April 1993 van Vivo na Alma getrek en by Laerskool Alma aangesluit as onderwyser. Volgens die skool se personeel en leerders was Santa ‘n wonderlike onderwyser en ‘n groot aanwins vir die skool.
Santa (65), wat op pensioen gaan, sê sy kan self nie glo dat die tyd so gou verbygegaan het nie – “dit voel glad nie of ek 24 jaar hier gebly en skoolgehou het nie” sê sy.
“Ek het soveel veranderinge in my 24 jaar by die skool beleef. Die leerders van die skool se demografie het deur die jare dramaties verander, die skool se taal van onderrig het verander van Afrikaans na Engels, die aantal leerders in die skool het meer as verdubbel, nuwe klasse is aangebou en geopen. Die koshuis wat aanvanklik tot kapasiteit vol was met 70 leerders, se deure het in 2009 amptelik gesluit en is nooit weer heropen nie” sê sy.
Santa sê sy gaan die vriende wat sy oor die jare in die Waterberg gemaak het baie mis en sy sal altyd ‘n spesiale plek in haar hart hê vir hulle. “Die een ding wat ek vir seker nie gaan mis nie is die slegte sinkplaatpaaie” voeg sy by.
Rouxville in die Vrystaat gaan voortaan Santa se tuisdorp wees, want sy gaan een van haar jarelange drome bewaarheid en ‘n gastehuis open. Sy wik en weeg nog oor die naam van haar gastehuis, maar die twee gunstelinge is My Droomhuis of Kersfeesrus. “Al die Waterbergers moet vir seker by my kom kuier en oorslaap as hulle op die N6 onderweg is na die Oos-Kaap” sê sy. Sy beplan ook om haar eie seepfabriek te bedryf.
Santa was ook ‘n betrokke lidmaat van die Gereformeerde Kerk Vaalwater en ledemate daar gaan haar kreatiewe talente baie mis.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.