SASSA – “wat ʼn gemors”

LEPHALALE — Mogol Pos het op Facebook gevra dat enigiemand wat plaaslik probleme met SASSA-kaarte gehad het of steeds het rakende kaarte wat gekloon word en jou geld wat op dié manier gesteel word, die kantoor moes skakel of ʼn e-pos stuur.

Daar was ook gevra dat die kliënt inligting verskaf oor die ervaring by die plaaslike SASSA-kantoor betreffende behulpsaamheid en die oplos van die probleem.

Sanelia du Plooy het terugvoer gegee rakende haar ma en ouma se ervaring rondom SASSA.

“Liewe land! Wat ʼn gemors. My arme ma moes so sukkel omdat iemand anders “geshop” het oor Kersfees met my ouma se geld,” sê Sanelia.

Sy sê haar ma het direk na die SASSA-kantoor in Lephalale gegaan waar hulle op die sisteem gesien het dat die geld uit die rekening onttrek is, maar die sisteem dui nie aan wié die geld onttrek het nie.

Van daar af moes hulle na Lephalale Polisie toe gaan vir ʼn verklaring. By die Polisie verneem hulle toe dat haar ouma self daar moet wees. Haar ouma is toe na die stasie en sy het in die bakkie bly sit terwyl haar ma in die aanklagkantoor in die ry gestaan het. Volgens Sanelia sê haar ma die konstabel het haar baie mooi gehelp en hy was baie vriendelik. Hy het selfs na die bakkie gegaan om haar ouma se vingerafdrukke te neem.

“Van daar is hulle na die poskantoor en SASSA. Hulle het daar weer vingerafdrukke geneem en was baie hulpvaardig.

Daar was ook ʼn speurder teenwoordig wat tans aan die saak werk om al die besonderhede van die SASSA-saak te kry.

“Ek dink daar is baie sake wat nie aangegee is nie, want as mens in ag neem hoeveel keer my ma heen en weer moes ry vir alles, is daar mense wat moed sal opgee met die hoeveelheid taxi- of busgeld wat hulle sal moet uitgee vir die heen en weer wat jy gestuur word,” sê Sanelia.

Mogol Pos het gaan kers opsteek by die speurders wat tans aan die saak werk en hulle is dit eens dat dié tipe probleme, wat kaartkloning insluit, net voorkom vandat die nuwe SASSA-kaarte in werking gestel is. “Ons het nooit voorheen probleme gehad nie,” sê hulle.

Nog ʼn probleem is dat van die mense se geld met die gekloonde kaart in ander provinsies getrek word dat dan beteken ʼn inwoner van Lephalale se saak word oorgegee na ʼn polisiestasie in byvoorbeeld Natal.

— Stuur gerus jou ervaring van jou nuwe SASSA -kaart na sub@mogolpos.co.za

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.