SAVF Maroela-Oord sprankel!

LEPHALALE — Die SAVF Limpopo se 20ste konferensie is vanjaar vir die eerste keer op tuisgrond by die SAVF Maroela-oord gehou en die organiseerders het behoorlik uitgehang.

Cate Ngwepe is vereer vir haar diens by die SAVF Marapong One Stop Centre. Hier ontvang sy haar sertifikaat van Greame Pepler, SAVF-president

Met die tema “Leave a little sparkle” het drie vroue van die gemeenskap wat ten spyte van omstandighede wel ʼn sprankel los waar hulle ook al gaan, die konferensie toegespreek.

Tania Kaiser het gepraat oor hoe sy moes opstaan nadat haar man in ʼn ongeluk op die jagveld dood is. Sy was skielik die enkelma van drie dogters. Sy het getuig hoe die Heilige Gees haar gelei en teruggebring het na ʼn lewe vol vreugde.

Dr Mariëtte Emslie het gesê die mense in die rehabilitasiesentrum by Mediclinic Muelmed waar sy aangesterk het, het haar laat besef dat dit altyd slegter kan gaan. Hulle positiwiteit het ʼn sprankel in haar lewe gebring en sy probeer dit uitleef. “Ek het soveel om voor dankbaar te wees, die feit dat ek kan sien en onafhanklik kan funksioneer is reeds genoeg om voor dankbaar te wees,” het sy gesê.

Anice Kruger, ma van die brandslagoffer, Pippie, het ʼn lang pad gestap tot vandag waar Pippie die konferensie laggende bygewoon het. Een van Anice se lewensleuses is om nooit nee vir ʼn antwoord te vat nie!

Die SAVF Limpopo verskaf ʼn diens aan vyf distrikte. Daar is 221 vrywilligers, 169 personeellede, ses maatskaplike werk-kantore en nege fasiliteite. 64 gemeenskappe en 18 139 mense word deur dié organisasie bereik.

Suretha Barnard, administratiewe beampte by die SAVF Maroela-Oord, sê die gaste kon nie uitgepraat raak oor die geleentheid nie en hulle bedank Marietjie van der Walt en haar span asook Anita Nel van harte vir alles wat hulle gedoen het om alles waaraan hulle geraak het te laat sprankel. “Ons sou dit nie sonder hulle kon doen nie,” sê sy.

Die vrywilligers wat vereer is met ʼn kenteken is Felicity Bezuidenhout (35 jaar diens as vrywilliger), Meisie Bezuidenhout (30 jaar), Heleen du Plessis en Elmarie Eybers (25 jaar), Josephine Makhutudisa (10 jaar vrywillig en 18 jaar in diens van die SAVF).

Cate Ngwepe is ook vereer vir haar diens by die SAVF Marapong One Stop Centre.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.