SBP VLU leer baie

STEENBOKPAN — Die lede van Steenbokpan VLU het ‘n baie interessante en leersame vergadering in Julie gehad by die Centre of Hope te Steenbokpan. Centre of Hope is ‘n rehabilitasiesentrum vir middelafhanklikes – hetsy dwelms, drank, pille ens.
Aan die stuur van die sentrum is Danie en Surita Steenkamp en pastore Carl en Marné Lennard. Die dames is deur die hele sentrum geneem en die program is aan hulle verduidelik. Daar is weer eens besef hoe bevoorreg elke mens is wat die greep van verslawing vryspring. Die vroue sê hulle het ook van nuuts af besef dat die mense wat by die sentrum werk dit as ‘n roeping beskou om ander te help.
Die vier meisies wat tans by die sentrum is het heerlik saamgekuier en vertel hoe hulle lewens verloop het.
Die tak was bevoorreg dat Ria Strydom, Bosveldstreekvoorsitter, ook die vergadering bygewoon het en ‘n paar interessante dinge verduidelik het.
Riana Oosthuizen, Voorsitter van Northam VLU het ook saamgekuier en die Amigurumi Breinspeelding gedemonstreer. Joan Beukes het meer vertel oor die VLU se Skrywer van die Jaar, Cecilia Nortjé (Slykhuis).
Ilana Venter het gedemonstreer hoe om ‘n voëlvoerder te maak met onder andere ‘n toiletrolletjie, grondboontjiebotter en sade.
Daar is heerlik gekuier saam met die agt gaste wat die vergadering bygewoon het.
Die tak heet ook die nuwe lede, Katrina Brummer en Mia Frost baie welkom in hul midde.
Steenbokpan VLU se volgende vergadering is op 15 Augustus. Skakel Joan Beukes by 014 766 0186 vir meer inligting.

Leave a Reply