Seekoeie in die sop

LEPHALALE — Vier volwasse seekoeie en ʼn kalf is verlede week deur Pieter Pelser in die Mogolrivier naby die Beska-laagwaterbrug opgemerk en alhoewel hy elke dag daar verby ry, het hy Sondag 30 Junie anders na hulle gekyk. Hy het besef hulle ly honger.

“Omdat dié diere maar lomp en groot is, besef mens nie dadelik dat hulle maer is nie. Ek het geskrik toe ek sien hoe een van die koeie se heupbeen duidelik sigbaar is. Daar is geen gras nie en die riete is kurkdroog. Ons gaan hulle verloor as niemand iets daaraan doen nie,” verduidelik Pieter.

Hy sê die huidige situasie beteken die diere gaan waarskynlik nie die winter oorleef nie.

Hy het in die verbygaan ʼn foto geneem en dit op ʼn sosiale mediabladsy geplaas en die reaksie van die gemeenskap het hom oorweldig. Verskeie mense het beloftes gemaak om grasbale of lusern te skenk of geld in te betaal sodat voer aangekoop kan word. Die rekeningbesonderhede is: Lewies & Associates Trust, ABSA Lephalale tjek, bankkode 334 547, rekeningnommer 1470 158 197, verwysing B1200 Bosveld Seekoeifonds. Die rekening word geadministreer deur Lewies & Associates.

Verskeie skenkings het reeds ingekom en Pieter se buurman, Attie van Niekerk, het aangebied dat van sy store eers vir dié doel gebruik kan word.

Pieter sê hy het die raad gekry dat die gras/hooi en lusern op ʼn 50/50 basis gemeng moet word sodat die diere ook proteïne inkry.

Supermarkte wat oorskietslaai en groente het wat nie meer geskik is vir menslike bruik nie, kan dit ook aan die seekoeifamilie skenk.

“Daar is elke naweek mense wat op die brug stop en na die seekoeifamilie kyk. Dit is ʼn groot aantrekkingskrag en mense kom tot uit die stad om te kyk hoe lyk hulle. Dit is nou tyd om iets terug te gee deur te verseker hulle oorleef die winter,” sê Pieter.

Skakel Johann Bührmann by 083 701 7293 vir navrae.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.