Sektor 4-misdaadverslag

Leoni Kruger
LEPHALALE — Adjudant-offisier Jan Oberholzer wat in beheer is van Sektor 4- misdaad (landelike gebiede) het tydens die vergadering van die Lephalale Gemeenskapsveiligheidsforum (LGVF) verslag gedoen oor misdaadvoorvalle vanaf 25 Maart tot 20 April.
Vir die tydperk vanaf 25 tot 31 Maart is daar een geval van huishoudelike geweld aangemeld. ‘n Voorval van diefstal van koperkabels is in Steenbokpan aangemeld, sewe voorvalle van huisbraak is aangemeld waar TV-stelle, drank en kontant gesteel is.
Een voorval is aangemeld van die gebruik van ‘n voertuig sonder die eienaar se toestemming en een voorval van strafbare manslag is aangemeld.
In April is daar ‘n voorval van opsetlike saakbeskadiging aangemeld waar ‘n wildsheining geknip en beskadig is, ‘n saak van huisbraak en opsetlike saakbeskadiging is aangemeld waar onder andere die linkervoorruit van ‘n voertuig gebreek is.
In ‘n spesiale skoonmaakoperasie is 59 Zimbabwiërs gearresteer. Volgens Oberholzer is dit deel van die polisie se poging om huisbrake te verminder.
Die diefstal van ‘n voertuig en koperkabels asook huisbraak en diefstal is ook aangemeld.
Oberholzer het verder gesê dat dit vir die polisie ‘n probleem is dat sommige kontrakteurs onwettige immigrante gebruik as sekuriteitsbeamptes. Dit word dikwels gevind dat hulle as informante optree en belangrike inligting deurgee.
Die gemeenskap is weer eens aangemoedig om alle sake aan te meld, hoe gering ook al.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.