Senior boere vereer vir bydraes

LEPHALALE — “Die boere in dié land van ons is ʼn klein groepie spesiale mense met ʼn reuseverantwoordelikheid. Dit is ʼn uitdagende, edele en Godgegewe beroep”. Dié ode aan boere in Suid-Afrika is Vrydagoggend 31 Mei vanaf 10:00 tydens die Landbouinligtingsdag by die Veldskoenfees gelewer. Sowat 100 boere het die geleentheid bygewoon waar meer geleer is oor onder andere weiding, aangeplante weiding, ekonomiese volhoubaarheid en hoe om waarde toe te voeg tot aanvullings vir vee en wild.

Oom Jan Lamprecht saam met Jan Eckard, een van die feesorganiseerders

Senior boere het eretoekennings ontvang vir die bydraes wat hulle gelewer het tot Boerdery in veral Limpopo.

Gerhard Brönn, Phillip Bronkhorst, Neels Troskie, Stoffel Pretorius, Piet Smit en Jan Lamprecht het die geleentheid bygewoon om hulle toekennings persoonlik in ontvangs te neem. Jan Schoeman was siek tydens die oorhandigings en kon dit nie bywoon nie.

Mogol Pos het met die meeste van hulle gesels om uit te vind op watter paaie die lewe hulle geneem het.

Hulle stories sal in die volgende paar uitgawes van Mogol Pos verskyn.

Hier is oom Jan Lamprecht se storie:
Die 94-jarige Jan Lamprecht het lang draaie gestap tot waar hy vandag woon op die plaas Somerset-Noord langs die Matlabasrivier. Hy woon in dieselfde huis waar hy 94 jaar gelede gebore is.

Hy het skoolgegaan in ʼn eenmanskool wat een keer per jaar deur ʼn inspekteur besoek is en waar elke kind deur hom ondervra is om hulle vordering te bepaal.

Jan word toe sommer van graad een na standerd een (graad drie) bevorder en van daar af dadelik na standerd drie (graad 5).

Die inspekteur sê toe Jan moet daar wegkom, hy is slim genoeg. Van daar af het hy skoolgegaan by De Kroon (ʼn entjie van Brits af), daarna is hy na die nuwe sentrale skool in Sentrum waar hy sy standerd 6-jaar deurgebring het. Hy was vir die res van sy hoërskoolloopbaan in Rustenburg Hoërskool.

Na skool het hy vir ʼn BSc-graad aan die Universiteit van Pretoria studeer met wiskunde en toegepaste wiskunde as hoofvakke. Nadat hy sy graad gekry het, het hy die nuus gekry dat sy pa se gesondheid nie goed was nie, en hy is terug na Sentrum om sy pa in die winkel te help.

Die winkel is later verkoop, maar Jan het nog ses maande daar gebly om die nuwe mense touwys te maak. Toe is hy terug plaas toe. Die plaas Somerset-Noord waar hy nou woon.

“Ek het later getrou maar my ouers het niks van my vrou gehou nie en ek het alles verloor,” sê hy.
 Hy het aansoek gedoen vir twee vakante poste – vir ʼn onderwyspos en ʼn vee-inspekteur en hy is vir albei poste aanvaar. Hy het egter onderwys gekies en was laerskoolonderwyser in Soutpan en Steenbokpan.

Op ʼn dag het iemand van die Departement van Gesondheid hom genader oor hulle navorsing oor bilharzia in die Laeveld – hulle was op soek na sy kennis en kwalifikasies in chemie. En Jan het ingeval by die Departement van Gesondheid.

Daarna het Jan ʼn draai gemaak in die politiek waar hy onder dr Verwoerd gewerk het. Dit was harde jare en hy het nooit gerus nie. Tot sy pa hom een oggend skakel en sê hy moet teruggaan plaas toe.
 “My pa het rumatiekkoors gehad, hy was heeltemal inmekaargetrek en ʼn invalide. Hy wou hê ek moet plaas toe gaan. Ek het dadelik bedank, want ek het geweet niks is toevallig nie,” vertel Jan.

Hulle het met grondbone geboer – “ek het my ryk geplant en bankrot geoes,” sê hy.

Jan sê dit was nie goeie jare nie, maar hy kon oor ʼn paar jaar darem ʼn klompie beeste bymekaarmaak.

Na drie of vier jaar het hy ʼn verskriklike misoes gehad en hy het die koöperasie baie geld geskuld vir saad, kunsmis en brandstof. Hy het van sy beeste uitgekeer om veiling toe te neem en daar loop hy ʼn studente- en stoeimaat raak (hulle was op hulle dag deel van Tuks se eerste stoeispan). Dié is toe hoofbestuurder van Karoo Lewendehawe.

“Ek was plat teen die grond op daai stadium, maar ons het begin gesels en later begin besigheid praat.

Ek het die volgende Maandag daar begin werk,” sê Jan.

Die volgende drie tot vier jaar was egter ernstige droogtejare, maar nie ver van hom af nie het ʼn oom Ernst Meyer gewoon …

“Hy het 10 000 morge grond gehad wat aanmekaar loop, maar sy seuns het nie belanggestel om te boer nie en hy het nie meer kans gesien om alleen vorentoe te gaan nie. Hy het iemand gesoek om sy beeste te koop en die grond te huur – ek gaan toe na my maatskappy en sê ek sien ʼn geleentheid. Die res was geskiedenis – ek het nog meer beeste en grond bygekoop en ʼn hele klomp beeste deur die droogte gekry.

Jan het na ʼn hele paar omwentelinge bedank by Karoo Lewendehawe en teruggegaan plaas toe. “Die werk by Karoo Lewendehawe het my baie gehelp, ek het selfstandig geword en ek kon meer grond koop en beeste aanskaf.”

Jan en sy eerste vrou het nooit kinders gehad nie en hulle is later geskei. Hy het daarna met Cathy getrou en is vandag, 45 jaar later, steeds met haar getroud.

Hulle het drie seuns en almal van hulle doen goed.

Jan en Cathy bly steeds op die plaas – “volgens hom die plaas langs die hele Matlabasrivier wat die langste in een familie se besit is.

Maar wat is Jan se boodskap aan vandag se boere? “Wees positief en werk hard. Ek is deur baie moeilike omstandighede, maar ek het altyd hard gewerk en geglo. Ek het nooit getwyfel nie, ek was altyd positief. Vermy negatiwiteit deur jou hele lewe – dit breek jou af,” sluit hy af met ʼn positiewe boodskap.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.