Senior Burgers onthaal in styl

Leoni Kruger
LEPHALALE — ‘n Spesiale ete vir die senior burgers word elke jaar tydens die Bosveldfees by die Mogolklub funksiesaal gehou en vanjaar se ete is Vrydagmiddag 14 Julie gehou.
Vanjaar se verrassing was die optrede van die bekende tenoor, Chris Coetzer, geborg deur AVBOB Lephalale.
Pastoor Attie van Wyk van die PPK Lighuis in Lephalale het die geleentheid geopen met gebed en sy dankbaarheid uitgespreek oor al die mense wat nog saam die ete kon geniet.
Bosveldfees komiteelid, Tienie du Plessis, het almal wat betrokke was by die reëlings van harte bedank.
Nog ‘n tradisie is dat die finaliste van die Mej Bosveld-kompetisie jaarliks opdrag kry om fondse vir die Maroela-Oord in te samel en vanjaar se 12 finaliste het baie hard gewerk en ‘n fenominale R60 000 ingesamel. ‘n Tjek vir die R60 000 kontant is aan Meisie Bezuidenhout, bestuurslid van SAVF Maroela-Oord oorhandig.
Marie Seegers, beskermvrou van die Bosveldfees, het verduidelik dat die finaliste nie net kontant ingesamel het nie, maar ook vleis, groente, komberse en vele meer. Die totale waarde van die skenking in randwaarde is ongeveer R90 000.
“Dit is ‘n wonderlike poging en goed om te sien dat sulke pragtige jong meisies nog so baie voel vir hul medemens” het Marie gesê.
Anebe (Bibi) Oelofse wat tydens die Bosveldbal as Mej Debutante aangewys is, het alleen R20 000 ingesamel en soos Marie tereg opgemerk het – dit wil gedoen wees.
Mej Bosveld 2017, Nerine Schutte, haar twee prinsesse, Carre-Lee – en Vicky-Lee Armstrong, Mej Bosveldnooi Henriette Kotze, sowel as Anebe het tydens die ete seker gemaak al die gaste se glase bly vol.
Na afloop van die gesellige ete kon die gaste steeds rustig bly sit en luister na die strelende stem van Chris Coetzer.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.