Sielskos

LEPHALALE — Die Nederduits Hervormde Kerk Ebenhaeser se sustersvereniging (NHSV) het Vrydagaand 4 Mei die rooi tapyt uitgerol tydens ʼn heerlike aand van kaas, wyn, kuns en musiek in die “ou” kerkgebou op die terrein wat die perfekte atmosfeer vir die geleentheid geskep het.

Die Grenadiers-mannekoor saam met Nelia Jordan en Riekie Stopforth

Die bekende mannekoor, die Grenadiers, onder begeleiding van Riekie Stopforth met klavier en Nelia Jordan met dwarsfluit, het gesorg vir kos vir die siel, net soos die pragtige skilderye wat deur verskeie plaaslike kunstenaars uitgestal is. Dit was weer ʼn bevestiging van hope wonderlike talent in die dorp. Nóg ʼn hoogtepunt van die aand was ʼn voordrag deur Elana Greyling.

Die geleentheid is goed bygewoon en gaste het versoek dat die kerk asseblief nooit moet ophou om geleenthede van dié aard aan te bied nie.

Die NHSV vereer ook jaarliks ʼn plaaslike kunstenaar en vanjaar het die eer Delene Lambert te beurt geval met ʼn geskenkbewys van PNA.

Volgens Christine Kruger help funksies soos dié om projekte te finansier waaronder die Piet Potgieter se tehuis vir bejaardes in Mokopane. Die NHVS bedank die gaste wat die aand bygewoon het.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.