Skaapkopgilde geniet hulself gate uit

LEPHALALE — Die Ellisras Skaapkopgilde het Saterdag 7 Maart hul kwartaalikse saamtrek gehou. Behalwe vir al die staaltjies wat uitgeruil word, word daar gesmul aan nie net skaapkop op die spit nie, maar ook tradisionele geregte soos hoender op die spit, skaapafvalpot, hoenderpootpot, potbrood en slaai.

Coenie Groenewald is die president van die gilde en die res bedank hom en sy vrou Marie vir die reëlings. Die gilde word koöperatief bedryf sonder winsbejag en het tans ongeveer 85 lede.

Volgens Hans Koekemoer, ’n ywerige lid, was die afgelope Saterdag ’n pretbelaaide, goed georganiseerde en fantastiese kuierdag en hy bedank almal wat dit bygewoon het. Hy sê die doel van so ’n dag is juis om mense met ’n gemeenskaplike belangstelling saam te snoer waar kuier en eet aan die orde van die dag is. “Selfs die dames met die meeste fiemies het later heerlik saamgesmul,” sê Hans.

Lus vir iets anders as die gewone alledaagse? Sluit gerus aan by die Ellisras Skaapkopgilde. Jy sal nooit weer jou neus optrek nie. Kontak Hans Koekemoer by 072 738 9186 vir meer inligting.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.