Skaapkopsmul

LEPHALALE — Om skaapkop reg skoon te maak is nie lekker nie, dis harde werk, maar om dit te eet is lekkerder as lekker en beslis nie harde werk nie.

Claudius Thomas is honger!

Mens eet boonop met jou hande, daar is nie sprake van ‘n mes en vurk nie, behalwe die mes waarmee jy die laaste proeseltjie van die been afsny.

Hardekool Akademie het Vrydagaand 7 September weer eens ʼn suksesvolle “skaapkopaand” gehou met Erik de Milander, al die pad van Clanwilliam se wêreld, aan die stuur van skaapkopsake.
Clanwilliam is in die Wes-Kaap geleë en ook bekend vir die eerste verbouing van rooibostee. Erik het die gaste met pittighede vermaak terwyl hy die hoe-eet-mens-skaapkop-demonstrasie gedoen en gesê dat hy met goeie herinneringe teruggaan Wes-Kaap toe.

Hy het verduidelik hoe jy eerstens die bo- en onderkakebeen van mekaar af wegtrek en stelselmatig die vleis afhaal en dan die tong uithaal tot by die harsings! Dié lekkerny word behoorlik gedissekteer en al wat oorbly is ʼn bord met net ’n klompie bene!

Vir dié wat neus opgetrek het vir skaapkop was daar darem potjiekos en verder het die tafels gekreun onder bykosse en nagereg.

Ds Arno Nieuhoff van die AP Kerk het die verrigtinge geopen en Niel Kriel van die skool se beheerliggaam het die verwelkomings gedoen, die gaste bedank vir hul ondersteuning en gesê dat dit baie vir die skool beteken. Gert du Plessis het later die aand ʼn veiling waargeneem.

Hardekool Akademie het weer eens gewys wat egte Bosveldgasvryheid is en daar is tot laat gekuier.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.