Skarlakenkoors plaaslik geen gevaar nie

LEPHALALE — Met onlangse uitbraak van skarlakenkoors in Vaalwater, soveel so dat Laerskool Vaalwater moes sluit tot verdere kennisgewing, het baie inwoners van Lephalale bekommerd geraak dat dié siekte ook plaaslik kan toeslaan.

Mogol Pos het met verskeie algemene praktisyns in Lephalale gepraat en met uitsondering van enkele gevalle is die siekte plaaslik nie ʼn wesenlike gevaar nie.

Volgens Dalene de Villiers, hospitaalbestuurder van Mediclinic Lephalale, was daar tot en met druktyd nog geen pasiënte met skarlakenkoors by die hospitaal opgeneem nie. Sy het wel geweet van ʼn enkele geval wat deur ʼn dokter in die hospitaal behandel is.

Volgens Health24 word skarlakenkoors deur sekere vorms van die streptokokkusbakterie veroorsaak en dit kom gewoonlik by kinders tussen 4-13 jaar oud voor. Simptome is ʼn hoë koors, ʼn seer keel en hoof- en maagpyn. ʼn Uitslag verskyn gewoonlik na twee tot drie dae – eers in die armholtes en lieste en dan oor die ledemate en liggaam. Die velvoue is ʼn donkerder rooi, die wange is rooi en daar is ʼn bleekheid om die mond. Die tong is aanvanklik met ’n wit lagie bedek en word later aarbeirooi.

Die kliere in die nek is vergroot. ʼn Antibiotikum is noodsaaklik om die besmetting uit te wis en volgens dokters is penisillien steeds die beste metode van behandeling.

Die siekte was vroeërjare as ʼn baie gevaarlike siekte gesien, maar dit word deesdae as minder ernstig beskou.

Die besmette persoon moet van ander af weggehou word totdat die uitslag verdwyn.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.