Skemer gee hul oor aan kreatiwiteit

LEPHALALE — Kreatiwiteit was in oorvloed beskikbaar by die VLU Skemertak se afgelope vergadering. Lede het verskillende tipe kersgeskenke gedemonstreer en elkeen kon kies wat sy wou maak om saam te neem huis toe.
‘n Vinnige manier van seep ‘maak’ met gliserienseep, geurmiddels, ens. is gedemonstreer en die sepe het groot byval gevind. Bottels is versier vir tuisgemaakte likeur en lekkers of badsout. Daar is viltwerk gedoen wat enigeen se hart kon steel. Na vorige werksklasse in piouter-werk, het party dames kaartjies en bottels versier met hul ‘oorskiet’ piouter. Oorskiet het nog nooit so pragtig gelyk nie. Dan was daar ook die wat net lekker saamgekuier en gekyk het – net so lekker.
Die volgende werksklas vind plaas op 25 Oktober waar almal saamkuier en dié keer sal hulle hartjies leer hekel.
Die afsluitingsvergadering vind plaas op 8 November en beloof om ‘n heerlike aand te wees.
Kontak gerus vir Elana by 082 863 8696 of Lenie by 082 770 6917 vir meer inligting oor die tak.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.