Skemer VLU bly aktueel

LEPHALALE — Die lede van Skemer VLU is tydens hulle laaste takvergadering toegespreek oor die temas “Hef ‘n vrou op” en “Entrepeneurskap”.

Vera du Preez, Jacques Snyman, Astrid Basson, Anika van Rooyen en Lizette Pretorius

Jacques Snyman, koordineerder van die Lephalale Ontwikkelingsforum (LOF), het kosbare raad gegee oor hoe om ‘n strategie uit te werk vir jou organisasie, besigheid en jou lewe. “Jy is óf op die trein, óf op die spoor en dis jou keuse waar jy wil wees. As jy jouself op die spoor bevind, klim op die trein,” se hy. “Die lewe gaan oor vier “l’e” – lewe, liefde, leer en los ‘n erflating waarop jy kan trots wees.”

Jacques het soveel pitkos verskaf dat almal dit eens was dat hulle belangstel in ‘n strategiese beplanningsessie deur hom aangebied.

Astrid Basson, DA-raadslid, het vroue geïnspireer. “Feministe is nie mannehaters nie! Feminisme is vroue-bemagtiging. Ons het nodig om mekaar as vroue by te staan, in plaas daarvan om net kritiek te lewer, mekaar niks te gun nie en mekaar af te breek. Ons moet ons susters ondersteun. Vertel vir ‘n vriendin of ‘n vreemdeling hoe hulle jou lewe beter gemaak het. Mense het soms so ‘n groot impak op jou lewe en hulle weet dit nie eers nie,” het sy gesê. Sy het elkeen geïnspireer om ‘n ander vrou op te hef, Dag-tot-dag en een klein dingetjie op ‘n keer. Daarna kon elkeen iets positiefs oor ‘n vriendin neergeskryf op ‘n boekmerk.

Skemer se volgende vergadering word op 10 April om 18:00 vir 18:30 by Hippostraat 3 gehou. Die tema is ”Kultuur”.

Skakel Trudie Bronkhorst by 079 040 3044 of Lenie Brink by 082 770 6917 vir inligting.

Leave a Reply