Skemer VLU bly veilig

Elana Greyling, Thys Eloff en Mary-Anne Leach

LEPHALALE — Thys Eloff, voorsitter van die Lephalale Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), het onlangs die lede van die Skemer VLU-tak besoek en waardevolle lesse oor veiligheid gegee.
“Veiligheid is veel meer as net ʼn uurlange selfverdedigingsles. Dit begin by waaksaamheid. Wees te alle tye bewus van wat om jou aangaan,” sê hy.
Hy waarsku dat ʼn selfoon uiters gevaarlik is, juis omdat dit ʼn mens se aandag aftrek. “’n Selfoon hoort in jou handsak, wat altyd óf styf onder die arm vasgeknyp is, óf op ʼn onbereikbare plek in jou motor is – nie op die passasiersitplek of op jou skoot nie. Om nie eens te praat van grimering in die kar aanwend nie,” sê hy.
Veiligheid is ʼn ernstige saak waaraan almal aandag moet gee – veral met die huidige misdaadklimaat in die dorp en land.
Veiligheid beteken nie net om jou deure te sluit nie – dit beteken veiligheidshekke, mure of palissades, alarms, diefwering buite die huis, ʼn alarm binne die huis, groot honde buite, ʼn klein keffertjie asook ʼn veiligheidsone binne die huis.
Eloff het die vroue se vrae oor wapens en die wapenwet beantwoord en hulle is aangemoedig om opleiding te kry in wapenhantering.
Elana Greyling het meer vertel oor die Vrouelandbou-unie (VLU) as organisasie. Sy het terugvoer gegee oor haar besoek aan die parlement, waar sy met verskillende portefeuljekomitees gesels het oor die impak van steenkoolaangedrewe kragstasies op die gemeenskap en gemeenskapsgesondheid.
Die Skemertak se volgende vergadering, met ʼn internasionale tema, word op 14 November gehou.
Eet- en drinkgoed van verskeie lande sal aangebied word.
Skakel Lenie Brink by 082 770 6917 of Elana Greyling by 082 863 8696 vir meer inligting.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.