Skemer VLU — in die kol, ingelig

LEPHALALE — “In die kol – ingelig!” is die tema van die jaar vir die VLU Noord en dit was ook die tema tydens Skemer VLU se Februarie- vergadering.
Ten spyte van Kupido, wat allerlei lekker verrassings vir lede en gaste gebring het, kon dames fokus op sake wat saak maak. In die dokumentêre film, “The Bliss of Ignorance”, geproduseer deur ‘n omgewingsregtegroep, groundWork, het lede meer geleer oor die vernietiging van die Hoëveld. “Dit klink ver verwyder van die Bosveld af, maar lê dalk nader in ons toekoms as wat mense ooit kan glo.
Met die bou van Medupi en meer as vier ander voorgenome steenkool-aangedrewe kragstasies in die vooruitsig, kan steenkool ook die Bosveld, soos ons dit ken en lief het, se einde beteken. Die film wys skokkende feite uit die monde van mense wat dit self beleef het” sê Tharina Rossel, president van SALVU en lid van die Skemertak.
Die tak het ook amptelik protes aangeteken teen die aansoek van Eskom om uitstel te vra om gehoor te gee aan die minimum uitlatingstandaarde, m. a. w. hulle versoek om nie aan die wet gehoor te gee as dit kom by die hoevelheid swaeldioksied wat in die atmosfeer vrygestel word nie. Die lede voel sterk dat Eskom, ongeag hulle redes, aan die wet gehoor moet gee en dat die departement van omgewingsake die omgewing en die inwoners se belange moet beskerm.
Lede het ‘n sitkamer vol kompetisie-items saamgeneem vir beoordeling. Skemer plaas nie klem op kompetisies nie, maar die lede is sedert verlede jaar baie opgewonde oor die aanleer van nuwe vaardighede.
Valentynsdag was nog nooit so lekker nie!
Die volgende vergadering is ‘n praktiese werkklas waar almal iets interressant gaan maak en dit word op 14 Maart om 18:30 by Hippostraat 3 gehou.
Skakel Elana Greyling by 082 863 8696 of Lenie Brink by 082 770 6917 vir meer inligting.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.