Skemer VLU kruis naalde

Al die takke van VLU Noord het saamgestaan om hierdie pragtige handgemaakte speelgoed aan die ATKV Eilandoord te skenk wat dit op hulle beurt onder verdienstelike instansies gaan versprei

LEPHALALE — Borduur is ‘n fyn kuns. Presies hoé fyn het lede van die Skemer VLU-tak onlangs uitgevind toe Marcelle Steyn van die Biekie Lap winkel kruisiesteek aan hulle gedemonstreer het.
Die meeste lede se kruisiesteek-ondervinding strek tot by die blokkiesmateriaal van ‘n skinkbord of tafeldoekie. Marcelle het elkeen gehelp om ‘n skoenlapper te maak vir ‘n speldekussing. Die kruisies was so fyn dat dit meer soos naaldskilderytjies gelyk het. Maar elkeen het probeer en die meeste het goed geslaag. Die Skemer VLU-lede is ook nou borduurders!
“Die VLU gee elke vrou die geleentheid om haar talente te ontdek of om sommer net ‘n nuwe vaardigheid aan te leer, al is sy nie so goed daarin nie,” het Elana Greyling, voorsitter van die tak gesê. “Jy is nooit te oud om te leer nie en saam met só ‘n lekker groep vriendinne is mens ook nie bang om iets anders te probeer nie! Dis hoe ons groei!”
Lede het ook speelgoed gemaak wat geskenk is aan die ATKV. Daar is gebrei, gehekel en gestik om 25 pragtige poppe, beertjies, olifantjies, hasies en selfs ‘n apie te maak. Met soveel liefde in elke steek, sal hierdie speelgoed beslis kinderhartjies kan bly maak.
Die volgende vergadering word op 13 Junie vanaf 18:30 by Hippostraat 3 gehou met ‘Landbou en Tuinbou’ as tema. Skakel Elana Greyling by 082 863 8696 of Lenie Brink by 082 770 6917 vir meer inligting.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.