Skemer VLU kyk na haarself

LEPHALALE — “VLU, ons eie!” was die tema van die pas afgelope vergadering van die VLU se lewendige Skemertak.
Die VLU as organisasie is bespreek. Skemertak is deel van ‘n kring, wat op haar beurt weer deel vorm van Bosveldstreek, onder voorsitterskap van Ria Strydom van Lephalale (Ellisrastak), wat deel is van die drie streke van VLU Noord.
VLU Noord, onder leiding van Leanda le Cornu van Louis Trichardt, vorm deel van die Suid-Afrikaanse VLU onder leiding van Skemer se eie Tharina Rossel.
SAVLU is op haar beurt weer geaffilieerd by die Wêreldbond van Plattelandse vroue, wat meer as sewe miljoen lede het en selfs sitting het by die Verenigde Nasies.
So is elke lid deel van ‘n magtige organisasie wat die drome en probleme van vroue wêreldwyd op die hart dra. Die doel van die VLU is die opvoeding van die volwasse vrou en Skemertak werk hard daaraan om haar lede te help om hul talente te ontdek en te ontgin.
Die tema van die jaar is: “Werk saam aan ‘n beter toekoms.” Die tema is reeds goed deur die tak uitgeleef in hul ondersteuning van ‘n kleuterskool in Marapong asook ‘n Vrouegroep in Shongoane.
Die Persoonlikheid van die Jaar is Surita Steenkamp, ‘n plaaslike kunstenaar en VLU-lid van Steenbokpan. Van haar werk is tydens die vergadering uitgestal. Surita doen pottebakkery, pewter, batik, mosaïek en skilder graag. Eintlik staan haar hande vir niks verkeerd nie. Die VLU is baie trots op so ‘n lid.
Die Kunstenaar van die Jaar, dr Mich Veldman, ‘n fotograaf en mediese praktisyn van Modimolle, se foto’s is ook bekyk. Die Skrywer van die Jaar is ook ‘n Bosvelder, Keina Swart van Bela- Bela.
Die vergadering is afgesluit met ‘n heerlike kuier, soos dit hoort.
Die volgende vergadering word op 11 Oktober vanaf 18:00 vir 18:30 te Hippostraat 3 gehou waartydens lede en gaste lekker gaan saamwerk aan kersgeskenke.
Enige navrae kan gerig word aan Elana Greyling by 082 863 8696 of Tharina Rossel by 082 785 4828.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.