Skemer VLU op hoë noot

Anke, Nicolene en Amanda

LEPHALALE — Die lede van die VLU se Skemertak in Lephalale het belangrike sake tydens hulle Januarie-vergadering bespreek.
’n Graad 9-leerder van Hoërskool Ellisras, Anke van Rooyen, het saam met haar ma, Amanda, gesels oor haar projek om minderbevoorregde meisies te help. Sy is vanjaar ’n lid van die “International Leadership Academy” en ’n gedeelte daarvan is haar deelname aan ’n projek om die gemeenskap te bevoordeel. Saam met VLU Noord se tema: “Hef ’n vrou op” het Skemer-lede besluit om Anika te help. Dis ongelooflik dat meisies jaarliks tot soveel as 60 dae afwesig is van skool, omdat hulle nie toegang het tot sanitêre doekies nie. As deel van ’n internasionale projek, “Days for girls”, wil Anika help om ’n handgemaakte sanitêre doekie wat vir tot drie jaar gebruik kan word, aan meisies te skenk. “As vroue verstaan ons hierdie onontsnapbare deel van vrouwees en daarom wil ons graag help,” sê Nicolene Lemmer, voorsitter van die Skemertak.
Lede het saam gesels oor lidmaatskap, finansies en ’n heerlik beplan aan ’n kreatiewe 2018.
Die lede sê met ’n tema “Hef ’n vrou op” is vanjaar die regte jaar om elkeen se verskuilde of vergete talente te ontdek en om die ongelooflike versameling van kennis tussen hierdie vroue ook met ander te deel.
Die volgende vergadering beloof om ’n “praktiese aand” te wees. Gaan sluit gerus Dinsdagaand 13 Februarie vanaf 18:00 by die lede van Skemer VLU aan by Hippostraat 13. Skakel Lenie Brink by 082 770 6917 vir meer inligting.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.