Skemer VLU saam vir beter toekoms

LEPHALALE — Die bekende Astrid Basson het lede van die VLU Skemertak verlede week toegespreek en die tema van VLU Noord, “werk saam aan ‘n beter toekoms”, het so reg in Astrid se kraal geval. Vincent van Gogh het gesê: “Great things are done by a series of small things brought together.”
“Mense kan nie almal leiers wees nie en geen groep kan funksioneer as dit net uit ‘n groep ‘leiers’ bestaan nie.
Elkeen het sy unieke rol om te vertolk,” het sy verduidelik. “Soms voel ‘n mens ontuis binne ‘n groep, dis dan wanneer jou talente nie werklik by die groep inpas of raakgesien word nie. Dis belangrik om jou passie te identifiseer en mooi te kyk watter verskillende rolle daar binne so ‘n spesifieke veld is.” Sy het verwys na verskillende organisasies soos KANSA, die DBV en natuurlik, die VLU, waarin daar verskillende take/rolle is vir verskillende talente en belangstellings.
Die groep het ‘n paar interessante oefeninge gedoen, wat daarop gemik was om mekaar op te bou en positief te stem, wat beslis wonderlike vrugte afgewerp het. Astrid het Gloria Arroya aangehaal: “The power of one, if fearless and focussed, is formidable, but the power of many working together is better.”
Na al hierdie inspirerende woorde, is Skemertak beslis gereed om saam te werk aan ‘n beter toekoms!
Die tak beplan ‘n Herfstee op 16 April om 10:00 in die tuin van Marieta Eckard. Almal sien baie uit daarna. Die tak is besig met ‘n hele paar projekte soos herwinning,’n kleuterskoolprojek en vele meer.
Die volgende vergadering se tema is “iets uit niets” en dit vind plaas op 19 April om 18:30 vir 19:00 by Hippostraat 3.
Skakel gerus vir Elana Greyling by 082 863 8696 of Tharina Rossel by 082 785 4828 vir meer inligting.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.