Skemer VLU se planne

Ria Strydom, Bosveldstreeksvoorsitter, Delmarie van Zyl en Lizette Pretorius het bygedra tot ‘n inspirerende Skemer VLU-vergadering18

LEPHALALE — Skemer VLU het tydens hul Augustusbyeenkoms eers hul planne vir die komende VLU Fiesta bespreek.
Die tema van die Fiesta is “Vintage” en dit beteken jy kan jou pêrels en hoed afstof en Saterdagoggend 16 September vanaf 09:30 aanmeld vir ‘n bederfoggend by die Hervormde Kerk Ebenhaeser. Die kaartjies kos R150 per persoon.
Gaste sal kan weglê aan ‘n heerlike laatontbyt en kunsuitstallings, musiek en ander vermaak word aangebied.
Die tak is ook besig met ‘n SAPD-projek, waar omgeepakkies aan vroulike slagoffers van geweld gegee word. Die vroue sê hulle was geskok om te hoor dat daar reeds ses van dié pakkies die afgelope twee weke aan slagoffers oorhandig is.
Delmarie van Zyl het interessante feite gedeel oor geneties gemanipuleerde plante onder die tema land- en tuinbou. Sy het gesê die media het geneties gemanipuleerde plante ‘n slegte naam gegee, maar as daar dieper gekyk word, is daar ongelooflike voordele aan korrek gemanipuleerde plante.
“Dit kan hongersnood oplos, tekorte aanvul en as medisyne dien, om maar net enkeles te noem,” het sy verduidelik. Steggies en plantjies is hierna oor en weer uitgeruil.
Ria Strydom, streeksvoorsitter van Bosveld VLU, het kantversiering op koeke gedemonstreer en die vroue sê dit is ongelooflik hoe fyn, maar tog hanteerbaar, die eetbare kant is. Sy het ook wenke gegee oor ‘n perfekte vlegselbrood.
Lizette Pretorius, die tak se beoordelaarsameroeper, het wenke en inspirasie gedeel oor die Japanese ‘kreature’, klein diertjies met groot koppe en slap armpies wat gebrei of gehekel kan word.
Die volgende vergadering word beplan vir 12 September, met die tema: “VLU, ons eie”. Navrae kan gerig word aan Elana Greyling by 082 863 8696 of Lenie Brink by 082 770 6917.

Leave a Reply