Skemertak deins nie terug

LEPHALALE — Angie Ellis, wat die binnekant van ʼn laboratorium soos die palm van haar hand ken, het tydens die VLU Skemertak se Junie-vergadering die onderwerp “gesondheid” aangespreek en haar visuele voorlegging het ʼn paar mense half ongemaklik in hulle stoele laat wriemel.

Angie wys ʼn grillerige gas wat baie skade kan aanrig

Angie het egter vreesloos voortgegaan en die sensitiewe onderwerp van inwendige parasiete bespreek. Sy het verduidelik hoe lewensgevaarlik wurms (soos lintwurm, bolwurm en ander grillerige maats) vir ʼn mens kan wees.

“Hulle kan letterlik derduisende eiers per dag produseer en dan per hand of selfs deur die lug oorgedra word,” het sy verduidelik.

Angie was baie beslis daaroor dat almal ten minste twee keer per jaar ontwurm moet word – van die hond en die kat tot die baba en die ouma.

Na afloop van ʼn baie grillerige, maar belangrike onderwerp, is die VLU Fiesta, wat beplan word vir 11 Augustus, bespreek.

ʼn Nuwe skakelpaar vir die tak is aangewys, naamlik Marcelle Steyn en Elana Greyling.

Skakel Lenie Brink by 082 770 6917 of Trudie Bronkhorst by 079 070 3044 vir inligting oor die Skemertak (wat in Julie vanjaar hulle sewende verjaarsdag vier) se volgende vergadering.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.