Skiet ‘n skoot vir Kansa

Ria Wells
LEPHALALE – Die “Skiet ‘n skoot vir Kansa” wat deur Mogolklub se skietsubseksie aangebied word, vind 7 Mei vanaf 07:00 by die Appelvlakte Skietbaan plaas en dit word in samewerking met Kansa Lephalale aangebied. Die formaat waarin dit plaasvind is die gewilde ‘ghongskiet’ op wisselende afstande tussen 150 en 300 meter.
Inskrywings is R50 per skietbeurt van vyf skote en almal neem deel aan die oop afdeling waaruit wenners bepaal sal word. Daar is geen beperking op die hoeveelheid skietbeurte nie, inteendeel, hoe meer jy deelneem, hoe beter is jou kanse om ‘n pryswenner te wees en natuurlik hoe meer geld word daar vir ‘n baie goeie saak ingesamel.
Francois Badenhorst van die skietklub bied ‘n R500-skenking direk vir Kansa aan en daag besighede en individue uit om daarop te verbeter. Indien daar besighede en individue is wat wel bereid is om pryse te borg is hulle welkom om vir Francois te skakel by 082 773 8480 of 082 927 3269.
Daar sal deur die loop van die dag verversings te koop aangebied word. Skuts word aangemoedig om deel te wees van die ‘ghongskiet’ en sodoende te help om fondse vir Kansa in te samel en terselfdertyd ‘n heerlike adrenalienbelaaide skietdag mee te maak.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.