Skok en vrae oor kontrakteurswerk

LEPHALALE — Sowat 17 gemeenskapslede het Dinsdagaand 14 Augustus ’n publieke vergadering bygewoon waar die gemeenskap hulle probleme rondom die vervanging van die asbeswaterpype met die munisipaliteit kon bespreek en vrae vra. Die opkoms was swak te oordeel na die hoeveelheid klagtes wat daagliks op sosiale medianetwerke geopper word.

Sybil en Rudzani in gesprek

Sybil Nieuwoudt, DA-wyksraadslid, het die vergadering geïnisieer en Rudzani Ngobeli, waarnemende uitvoerende bestuurder van infrastruktuur by Lephalale Munisipaliteit het die vergadering bygewoon as verteenwoordiger van die munisipaliteit.

Sybil het die vergadering begin deur te sê die kontrak met die kontrakteurs (Tshau Civils) wat die waterpype vervang eindig aan die einde van Augustus 2018. Daar sal dan ’n inspeksie gedoen word waarna Tshau Civils ’n foutelys sal ontvang. Hulle het 21 dae om die foute reg te maak, waarna hulle ’n finale voltooiingsertifikaat sal ontvang, maar 5% retensiegeld sal teruggehou word vir ’n jaar om voorsiening te maak vir nog probleme wat mag opduik.

Daar is verskeie vrae gevra oor hoe die tenderproses gewerk het en hoe Tshau Civils aangestel is.

Tjaart van der Walt het gesê as die tenderproses reg verloop het en alles is in plek, hoe is dit moontlik dat dié kontrakteurs aangestel is? “Ek kan nie glo dit was die beste kontrakteurs nie, hulle het ’n totale tekort aan ondervinding en daar is ’n gebrek aan toesig. Daar is duidelik geen beheer oor hierdie kontrak nie. Ons was 13 dae sonder water. Hoe is dit moontlik? Daar is geen waterdruk nie, Telkomkabels is stukkend gekap, die straatligte werk nie. Die hele omgewing is in ’n verskriklike toestand. Vergewe my dat ek nie die proses verstaan nie,” het hy gesê.

Klaris Dreyer sê hy was verstom dat die mense wat die werk doen nie eers retikulasieplanne het nie. Hulle mors geld, dit is ses maande later en hulle kon nog nie daarin slaag om die ou in die hande te kry om vir hulle kaarte te gee nie. Hulle is nie in staat om die werk te doen nie. Ek het foto’s as bewys van hulle swak kwaliteit vakmanskap,” het Klaris gesê.

Hy het verder verduidelik dat die gemeenskap as belastingbetalers ontevrede is met die tenderproses en die standaard van die werk.

Phillip Engelbrecht het gevra watter rehabilitasieplanne het hulle in plek gehad vir die herstel van die opritte, ensovoorts.

Rudzani het gesê dit is goed dat die gemeenskap die projek monitor. Hy het weer eens die tenderproses verduidelik en gesê die munisipale bestuurder neem die finale besluit met die aanstelling van ’n kontrakteur.

Daar is gevra wat gebeur as die hoofkontrakteur ’n subkontrakteur aanstel? Rudzani het gesê dit is toelaatbaar, maar die vordering word dopgehou.

Rudzani het aangedui dat hy ’n publieke vergadering sal reël met die projekingenieur sodat dié self die “ingenieursvrae” kan beantwoord.

Betreffende die rehabilitasie van sypaadjies en opritte het Rudzani gesê sypaadjies behoort aan die munisipaliteit en daar moet aansoek by die munisipaliteit gedoen word om ’n sypaadjie te plavei of te verfraai. Die munisipaliteit het dus die “reg” om op sypaadjies te werk, maar hulle beoog om dit te herstel soos dit gelyk het vóór die projek.

Hy het gesê hulle neem kennis van die publiek se ontevredenheid en probleme en dit sal opgevolg word.

Sybil het aangedui dat almal se probleme geïdentifiseer sal word en in die 21 dae na die afhandeling van die projek aangespreek sal word.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.