Skool maak jou omgewingslim

LEPHALALE —Toe Klara Grieshaber, ’n graad 7-leerder van Laerskool Ellisras, opdrag kry om ’n taak te doen oor ’n omgewingsprobleem het sy en haar vriendin Mickaela Labotski, dadelik besluit dat hulle taak sal gaan oor dieremishandeling.

Klara en haar maat oorhandig ‘n paar van die sakke hondekos wat hulle ingesamel het aan die Lephalale DBV

Anita Erasmus, hulle onderwyser, was vuur en vlam oor dié goeie onderwerp wat deesdae baie kontroversieel is.

Klara en Mickaela het die plaaslike dierebeskermingsvereniging (DBV) besoek om onderhoude met die mense te voer, maar toe hulle daar kom het hulle dadelik gedink dat die DBV heeltemal te min donasies kry en dat die diere daaronder ly.

“Die diere kry minder kos as daar nie genoeg donasies van kos aan die DBV gegee word nie,” sê Klara.

“Ek is baie lief vir diere en dit raak my hart om te sien hoe diere swaar kry. Alhoewel hulle nie genoeg kos kry nie, het hulle heel gelukkig gelyk as hulle net ’n bietjie aandag kry,” sê sy.

Klara sê sy het toe besluit om te probeer help en ’n verskil te maak.

Sy het gevra dat haar maats wat haar verjaarsdagpartytjie bywoon, nie vir haar geskenke nie, eerder vir haar hondekos bring. Sy het ’n baie oulike uitnodiging ontwerp sodat haar maats kon weet hulle moet hondekos bring.

“Ons het ’n klomp sakke hondekos bymekaargemaak en dit vir die DBV gaan gee. Dit maak my hart bly om te sien dat ek ’n verskil kan maak en dat ek ’n paar diere gelukkig gemaak het. Dit is al wat ek vir my verjaarsdag wou hê,” verduidelik Klara.

Anita sê wat sy weer uit hierdie gebaar van Klara besef het is dat akademie tog ’n groot impak op kinders maak.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.