Skoot eis lewe

STEENBOKPAN — ʼn Geregtelike doodsondersoek is geopen by Lephalale Polisie nadat die 62-jarige Michael Coenraad de Coning, woonagtig te Skilpadfontein Gedeelte 2 in Steenbokpan, Saterdag 31 Oktober omstreeks 09:54 dood verklaar is.

Volgens adjudant-offisier Frans Mokoena, Lephalale Sone 3 Polisiewoordvoerder, het die oorledene Saterdagoggend ná ontbyt vir sy vrou, Isabel, gesê dat hy voor haar gaan sterf. Volgens ao. Mokoena het sy vir hom gevra waarom hy so sê waarna hy na hulle slaapkamer geloop het. Volgens ao. Mokoena het daar ’n hopie klere op die bed gelê. Isabel is terug kombuis toe waar sy skottelgoed gewas het. Sy het ’n kluisdeur hoor oopgaan en teruggekeer na De Coning toe. Volgens ao. Mokoena het sy iets onder die hopie klere op die bed sien lê en toe sy wou voel wat dit is, het De Coning haar gekeer. Sy het onraad vermoed en probeer om haar seun, Neels, te skakel, maar daar was geen selfoonsein in die huis nie. Sy het na buite gegaan waar die sein beter was en nadat sy vir Neels in die hande gekry het, vir hom gevra om met sy stiefpa (De Coning) te praat. Terwyl Isabel en Neels besig was om te praat, het hulle ’n geweerskoot gehoor.

Isabel het De Coning gekry waar hy voor die huis op die grond gelê het. Sy het hulp begin soek en die polisie in Lephalale na die toneel ontbied.

Die ondersoek duur voort.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.