Skote klap, 17 hardloop

Leoni Kruger
NORTHAM — Die Provinsiale Verkeersdepartement het vroeër die week ‘n padblokkade by die blou brug in die Koedoeskop/Northam area gehou.
Volgens ‘n woordvoerder van die Heritage Protection Group (HPG), ‘n misdaadondersoekspan wat nou saam met die polisie werk, het die verkeersbeamptes ‘n blou Isuzu dubbelkajuitbakkie met ‘n totaal van 17 passasiers gestop. Die drywer van die bakkie se rybewys is gevra en hy kon nie ‘n geldige rybewys vir die verkeersbeampte wys nie. Die voertuig was ook nie geregistreer nie en heeltemal oorlaai. Die drywer is toe gevra om vooruit te ry na Northam verkeerskantoor sodat hy aangekla kan word. Die verkeersbeampte het agter hulle aangery.
Volgens HPG se woordvoerder het die drywer blykbaar net toe hulle oor die brug is vir die passasiers beveel om af te klim en weg te hardloop, waarna die verkeersbeamptes waarskuwingskote geskiet het om hulle te probeer stop. Die drywer van die Isuzu het probeer wegjaag en hy het voertuie van die pad af probeer druk, maar hy is wel deur die verkeersbeamptes vasgetrek en op die toneel gearresteer. Van die verdagtes wat weggehardloop het is later gearresteer toe hulle hul selfoonbatterye by ‘n nabygeleë plaas wou herlaai en inligting is by hulle gekry oor waar die ander wegkruip.
Nog drie verdagtes is later Dinsdagmiddag gearresteer en aangekla daarvan dat hulle onwettig in die land is.
Alhoewel die drywer van die Isuzu ‘n vuurwapen by hom gehad het en daar heen-en-weer skote geskiet is, is niemand in die voorval beseer nie.
Die saak word verder ondersoek.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.