Slange is nie vir sissies nie

Skildneusslange
Skildneusslange

Leoni Kruger
LEPHALALE — Marius Koekemoer, slangvanger van Lephalale, sê anders as wat baie mense dink, mag hy geen slange verkoop nie. Hy laat almal vry in groot oop areas ver van mense af. Dit is teen die wet om slange te verkoop as jy nie ‘n spesiale permit het nie. Hy maak dus nie geld deur slange te vang nie, sê hy.
Marius waarsku die publiek om nie gras en blare opmekaar te laat lê nie. Dit is die perfekte broeiplek en habitat vir slange.
Sy pleidooi aan almal is om asseblief veral nie mambas en boomslange dood te maak nie. Hy sê daar is ‘n geweldige tekort aan teengif vir beide slange en elke slang wat doodgemaak word beteken daar is ‘n kans op teengif doodgemaak.
Volgens Marius het hulle die laaste tyd besonder baie luislange gevang en skildneusslange is ook tans volop. Hy sê ‘n skildneusslang se gif kan ‘n volwasse persoon definitief in die hospitaal laat beland en vir kinders wat minder as 30 kg weeg, is dit fataal.
Marius is van mening dat dokters ‘n verantwoordelikheid het teenoor hulle pasiënte, veral in die bosveld, om hulle kennis oor giftige slanghantering, slangidentifisering en slangbytbehandeling op te knap. “Dit is ook belangrik vir ‘n dokter om te weet met watter tipe gif hy of sy te doen het en hoe om dit te hanteer” sê hy.
Hy beveel ook aan dat almal wat met kinders te doen het, ook onderwysers, ‘n kursus moet doen oor hoe om iemand se lewe te red in geval van ‘n giftige slangbyt.
‘n Ander nuttige wenk vir mense wat vermoed daar is slange in hulle dak, is om vier of vyf Doom Foggers in die dak te plaas. “Dit sal sommer al die goggas ook doodmaak en dit sal die slang laat vlug of doodmaak.
“Sorg ook dat jy ten minste vier ampules kortisoon en celestamine in jou medisynekas het – dit gee mens net meer tyd om by behoorlike mediese hulp uit te kom” sê Marius.
Marius sê indien ‘n persoon (ongeag of dit ‘n volwassene of ‘n kind is) wel deur ‘n giftige slang gebyt is, beveel hy aan dat ‘n minimum van ses, maar verkieslik agt ampules teengif so gou as moontlik toegedien word.
Marius se een droom is om ‘n hele klomp vylslange van ‘n wettige teler te bekom – ‘n vylslang leef van ander slange (hulle eet slange), mens sien hulle bykans nooit nie, want hulle jag net in die aand. Dit klink vir hom na ‘n goeie oplossing om slange op ‘n etiese manier minder te maak.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.