Slangvanger vang skrik

Marius se voertuig na die ongeluk
Marius se voertuig na die ongeluk

Leoni Kruger
LEPHALALE – Marius Koekemoer, die dorp se eie persoonlike slangvanger, het Donderdagmiddag 10 November ‘n baie noue ontkoming gehad nadat hy op ‘n brug oorkant Medupi met sy voertuig van die pad af gery het.
Volgens Marius het hy die kant van die pad met sy een voorband getref waarna die band gebars het, die kar het na regs geswaai en hy het beheer oor die voertuig verloor. Die voertuig het omgeslaan en weer op sy bande tot stilstand gekom.
“Ek kan nie regtig vir jou sê wat gebeur het nie, ek weet net my suikervlak in my bloed was baie laag en ek het net skielik hierdie ongelooflike moegheid gehad wat my oorval het. Ek het die vorige nag feitlik niks geslaap nie, want ek is drie keer deur die nag uitgeroep om slange te gaan vang” sê Marius.
Marius sê hy besef hoe gelukkig hy is dat hy feitlik ongedeerd uit die voorval gekom het. Net ‘n paar stywe spiere is al wat hy oorgehou het.
“Die publiek besef nie altyd dat ons eintlik sewe dae ‘n week, 24 uur per dag aan diens is nie. Behalwe my werk by Medupi bied ons die slangvangdiens gratis aan die gemeenskap. Ons het nog nooit geweier om uit te gaan as iemand bel en sê ons moet ‘n slang gaan haal nie” sê hy.
Die voorval Donderdagmiddag het hom egter bietjie laat nadink. Is dit nie tyd dat mense daaraan dink dat hulle eintlik elke keer wanneer ‘n slang gevang word hulle lewe op die spel plaas – sonder enige vergoeding vir diesel of ander uitgawes nie?
Marius sê hulle het vanaf 1 tot 10 November vanjaar reeds 56 slange gevang.
In die laaste sewe weke het hulle agt luislange gevang – almal in die omgewing van vier meter lank. Hulle het boonop 15 kleiner luislange gevang.
Hulle vang jaarliks tussen 800 en 1 000 slange. En dit alles doen hulle as gemeenskapsdiens.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.