So rol hulle …

LEPHALALE -— Mogolklub se rolbalsubseksie het Saterdagaand hul jaarlikse prysuitdelingsfunksie by Mogolklub gehou.

Mogol se rolbalklub tydens die prysuitdelingsfunksie

Linton Burger, voorsittter, het almal verwelkom en die groep as ’n rolbalfamilie beskryf waar onderlinge ondersteuning een van die suksespilare is waarin die groep funksioneer.

Hy het diegene bedank wat altyd beskikbaar is om te help en het Stompie Nel, Nic Fouche, Dorette Wells en Rina van Greunen, wat hom en sy vrou Ella gereeld bystaan en hard werk met fondsinsamelings, spesiaal bedank. Hy het Willie Liversage van Mogol Superspar uitgesonder wat aan die rolbalklub gereeld die geleentheid gegun het om worsbroodjies en pannekoek voor die supermark te verkoop. Linton het ook die klubkomitee bedank vir hul bydrae.

Linton het voorts beklemtoon dat die klub relatief klein is, maar het deur die jaar goeie prestasies behaal. Vyf van Mogol se spelers het vroeër vanjaar aan die Interdistriktetoernooi deelgeneem, waarvan vier spelers in die Kaap en een in Johannesburg, waar hulle teen al die ander provinsies se spelers moes kompeteer – ‘n eerste in Mogolrolbal se geskiedenis.

Trofeë is aan die volgende persone oorhandig:
• Hans van Rooyen en Ria Smith vir die beste vordering, toewyding en goeie gedrag;
• Die komitee vir hul leiding deur die jaar naamlik, Linton en Ella Burger, Rina van Greunen, Hans van Rooyen, Johan du Toit en Nic Fouche;
• Wenners van die getrekte pare: Pieter Pieterse en Dorette Wells;
• Wenners van die gekose pare: Stompie Venter en Dorette Wells;
• Uitblinker van die Jaar: Dorette Wells behaal ’n algehele vierde plek tydens die Ope Meesterskampioenskap te Polokwane;
• Mansenkelspelkampioen: Stompie Venter;
• Damesenkelspelkampioen: Ella Burger; en
• Hans van Rooyen en Johan du Toit is ook vereer vir hul bydrae om na-ure te werk om die rolbalbaan op standaard te kry.

Die aand is jolig afgesluit met ’n heerlike ete, musiek en dans.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.