Só skilder hulle

LEPHALALE — Die VLU Ellisras-tak het Saterdag 15 September ʼn geslaagde skilderkursus deur die organisasie “Paint Nite” in Mogolklub se funksiesaal aangebied.

Die dames het van 14:00 tot 17:00 agter esels met verfpalette en –borsels gesit en stap vir stap gemaak soos wat aan hulle verduidelik is van kleur en hoe om verskillende kleure vir verskillende nuanses te meng.

Die VLU het gesorg vir al die kunstoerusting, instruksies, vingerhappies en natuurlik ʼn glasie wyn of vrugtesap om ʼn gesellige middag mee af te sluit, met die saambindende faktor van die uitleef van kreatiwiteit en talentontwikkeling.

Ongeveer 65 dames het die kursus bygewoon en elkeen het na baie konsentrasie met hul eie kunswerk daar uitgestap.

Volgens Lida Roos, sameroeper van die demonstrasie, was die dames so begeesterd dat hulle nou reeds wil weet wanneer daar weer so-iets gereël gaan word.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.