Sokkerveld in woongebied?

LEPHALALE — Die area aangrensend tot Sandsteenstreet in Onverwacht is verlede week ontbos en die grond platgestoot. Sokkerdoelhokke is strategies geplaas en lyne is met gips afgemerk.

Mogol Pos het die toneel Donderdag 2 Augustus besoek en volgens die kontrakteur wat besig was met die ontbossing, gaan dié area binnekort ʼn sokkerveld wees vir die studente van die TVET kollege in Onverwacht.

Charity Radipabe, Uitvoerende Bestuurder: Ontwikkelingsbeplanning by Lephalale Munisipaliteit, het Vrydag vir Mogol Pos gesê sy is glad nie bewus van dié projek nie en sy het eers die vorige dag (Donderdag) daarvan te hore gekom nadat die gemeenskap vrae begin vra het.

Sy het wel bevestig dat sy die amptelike dokumente gesien het dat TVET kollege dié grond by Eskom gekoop het.

Mogol Pos het Dries de Ridder, stads- en streeksbeplanner, om advies genader. “Ek vermoed dat die sokkerveld se oprigting onwettig is aangesien ek nie bewus is van enige aansoek vir so ʼn fasiliteit op die erf nie. Wanneer iets soos ʼn sokkerveld in ʼn residensiële area beplan word, moet die grondgebruiksregte dit toelaat en dit is nie hier die geval nie.

“Die sokkerveld is ontwikkel op Erf 4048 Ellisras Uitbreiding 29 en is volgens die huidige grondgebruikskema wat onlangs afgekondig is (en die wettige regte van grond vervat) gesoneer vir opvoedkundige doeleindes en dit sluit nie sportvelde as hoofgebruik in nie,” sê De Ridder.

Met so ʼn ontwikkeling moet daar uiteraard ook die nodige ablusiegeriewe en parkering voorsien word. “Die ontwikkeling van so ʼn fasiliteit is normaalweg onderworpe aan streng voorwaardes wat beheer en toegepas moet word deur die munisipaliteit,” sê hy verder.

Charity het Dinsdagoggend 7Augustus bevestig dat die eienaars van die grond (wat blyk wel TVET kollege te wees) moet aansoek doen vir die ontwikkeling waarop die munisipaliteit sal reageer. Volgens haar is die brief op 7 Augustus aan hulle gestuur waarin die prosedures verduidelik word. Sy het bevestig dat, volgens die grondgebruikskema, is dié grond gesoneer vir opvoedkundige doeleindes. 

Hou gerus die spasie dop indien daar enige verwikkelinge is.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.