@Sold word 10

Leoni Kruger
LEPHALALE — Die bekende @Sold Eiendomme met Arona Rossouw en Francois Campher aan die stuur het Vrydag 12 Mei hulle tiende verjaarsdag gevier.
Toe Arona en haar gesin in Desember 2006 vanaf Vaalwater na Lephalale verhuis het, was ‘n eiendomsbesigheid die laaste ding waaraan sy gedink het. Sy wou ‘n interieurwinkel oopmaak. Mooi. Die winkel was in dieselfde gebou waar @Sold se kantore is en Arona sê sy kon nie voorbly met voorraadaankope nie. Die winkel was uiters gewild, Arona was omring met mooi goed en gelukkig.
Tot Yvette Malan en wyle Christo Kaiser haar genader het om saam met hulle ‘n besigheid in eiendomme te begin. Arona het reeds in 1993 gekwalifiseer as volwaardige eiendomsagent, so die uitdaging was groot. En toe sê sy ja.
“Die werk het my eintlik gepas, want my kinders was nog almal in die skool en my tyd was aanpasbaar. Ons het toe nog nie regtig iets geweet van Eskom en Medupi en hoe dit die eiendomsmark sou raak nie” sê Arona.
In Desember 2007 het iemand van Eskom hulle egter genader en gevra of hulle weet van die Eskom-behuising en alles wat daarmee saamgaan. Volgens Arona was haar idee van die begin af om glad nie verhurings te doen nie, maar Yvette het gelukkig daarop aangedring. Sy sê die verskil tussen @Sold se benadering van huurplekke en ander maatskappye is dat die agente niks te doen het met die kontrole, beheer en inspeksies van die huureiendom nie. Dit is deel van die kantoor se verantwoordelikheid en ‘n spesiale span is aangestel wat nét onderhoudswerk doen by die huureiendomme. Daar is ‘n spesifieke rooster waarvolgens gewerk word en gereelde inspeksies is ononderhandelbaar.
Francois het in 2008 by die span aangesluit en Yvette het haar dienste in 2009 beëindig.
Arona sê sy weet daar is ‘n persepsie dat die eiendomsmark in Lephalale ‘n “walk in the park” is, maar dit is net harde werk, toewyding en deursettingsvermoë tydens terugslae wat maak dat die maatskappy suksesvol is en vooruitgaan.
“En dan natuurlik die formidabele span van @Sold wat net altyd daar is. Sonder hulle sou ek dit nooit kon doen nie en ek is ongelooflik dankbaar teenoor elkeen van hulle” sê Arona.
@Sold bedank ook die gemeenskap, eienaars en huurders vir hulle ondersteuning deur die afgelope 10 jaar. “Ons sien uit na die volgende 10 jaar” sê sy.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.