Sonder krag en water …

LEPHALALE — Lephalale se inwoners was verlede week baie ontsteld nadat talle huise geen water gehad het nie. Die water wat wel later in die krane was, was bruin en vol modder en nie geskik vir huishoudelike gebruik nie. Sonder krag, sonder water of vuil water was baie inwoners se voorland.

Dit is hoe die water ʼn week gelede gelyk het

Intussen is daar gesê dat die munisipaliteit se reservoirs ook deur beurtkrag geraak word en dat daar nie water gepomp kan word as die krag af is nie.

Mogol Pos het gaan kers opsteek by dr Adrie Conradie wat nou betrokke is by die Zeeland-watersuiweringsaanleg. Volgens hom kon hulle nie die watersuiweringsaanleg ná die beurtkrag Woensdagaand 20 Maart aan die gang kry nie. Daar was ʼn elektroniese fout op die beheerstelsel van die aanleg, waarskynlik as gevolg van beurtkrag en van die komponente moes herstel word.

Volgens hom het hulle ʼn nege ure buffer gehad en tegnici het dwarsdeur die nag gewerk om die komponente te vervang en te herstel. Die aanleg is Donderdagoggend na beurtkrag weer aangeskakel, maar die reservoir by Zeeland het leeggeloop. Dit is sedertdien ten volle in werking.

Mogol Pos het inligting bekom dat ʼn deel van die waterprobleme voor die deur van die Lephalale Munisipaliteit gelê kan word, omdat hulle na bewering nie hulle reservoirs bestuur of onderhou nie. Baie dinge dui daarop dat die Palala pompstasie omseil was. Die water moes dus direk van Exxaro (Zeeland) na die dorp gaan en as Zeeland dan (soos verlede week) leeg is, is die hele dorp sonder water.

Mogol Pos het dr Conradie uitgevra oor die moontlikheid dat die Munisipaliteit probeer het om Palala reservoir weer aan die gang te kry nadat hulle besef het daar is geen water nie en dat al die pype leeggeloop het, maar hy wou nie daarop kommentaar lewer nie. Hy het wel gesê Exxaro se eerste prioriteit is om die elektronika by Zeeland te beskerm en daarom is hulle in proses om met Eskom te onderhandel dat Zeeland nie deur beurtkrag beïnvloed word nie.

Mogol Pos het navraag gedoen by die Lephalale munisipaliteit:

Mogol Pos: Dit kom voor dat die munisipale reservoirs leeg en omseil was. Vir hoe lank is dit reeds die geval? Indien die munisipaliteit die reservoirs beter bestuur het kon ʼn insident soos verlede week voorkom word?

Munisipaliteit: Twee reservoirs het wel water in gehad – Rupert-reservoir was 30% en Palala-reservoir was 100% vol. As gevolg van beurtkrag kon die pompe nie funksioneer nie. Die situasie is vererger deur die gebrek aan die invloei/inname van water uit Zeeland, aangesien die Zeeland-operateurs sekere uitdagings gehad het om te oorkom.

Mogol Pos: Die veronderstelling is dat die water direk vanaf Zeeland na die eindgebruiker gekanaliseer word. Toe Zeeland probleme ondervind, het dit die eindgebruikers direk geraak. Indien die munisipale buffers in plek en operasioneel was, sou dit die impak op die eindgebruiker verminder het. Was dit in plek?

Munisipaliteit: Die stelsel is so gestruktureer dat pompe slegs loop as die toevoer of druk laag is. Die toevoer by Rupert-reservoir word 90% van die tyd deur middel van omseiling gedoen aangesien die druk altyd voldoende is om die hele gebied te voorsien, terwyl die Phalala-reservoirpompe altyd 100% werk, want die toevoer deur middel van omseiling is nie voldoende nie.

Mogol Pos: Die bruin kleur en modderige tekstuur van die water was as gevolg van die lae of leë watervlakke van die reservoirs wat weer volgepomp was. Die afsaksels op die bodem van die reservoirs is “geroer” en dit is in die water vrygestel. Is dit so?

Munisipaliteit: Die water was bruin as gevolg daarvan dat die hele stelsel af was.

Mogol Pos: Is die “booster”pompe by die reservoirs funksioneel om te verseker dat die druk in die waternetwerk op aanvaarbare vlakke bly? Kan dit die rede wees vir die lae waterdruk in die dorp?

Munisipaliteit: Alle pompe is funksioneel met die uitsondering van Ledibeng en Altoostyd.

Intussen het Sybil Nieuwoudt, DA-raadslid, Dinsdagoggend 26 Maart gesê die kontrakteurs wat die asbeswaterpype vervang het, is terug in die dorp om herstelwerk op waterpype, wat die swak waterdruk veroorsaak, te doen.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.