Sonika beplan groot hoogtes vir DBV

Sonika Oosthuizen, Lephalale DBV se splinternuwe inspekteur
Sonika Oosthuizen, Lephalale DBV se splinternuwe inspekteur

Leoni Kruger
LEPHALALE — Ontmoet vir Sonika Oosthuizen, Lephalale Dierebeskermingsvereniging (DBV) se splinternuwe inspekteur. Sy het ‘n diploma in dieregedrag en –hantering agter haar naam en is ook geregistreer as ‘n assistent in dierewelsyn by die Veterinêre Raad. Al is dit alles ‘n hele mondvol is haar liefde en omgee vir diere die hoofsaak.
Sonika se ouers het ongeveer vyf jaar gelede na Lephalale verhuis en in dié vyf jaar was sy maar altyd so half op die uitkyk vir ‘n werk nader aan die familie. Nou het sy haar ideale werk gekry.
Sy was vir vier jaar ‘n inspekteur by Middelburg DBV en het dus oorgenoeg ondervinding om dié nuwe uitdaging aan te pak.
Sonika sê Lephalale DBV se administratiewe sisteme is reeds opgegradeer en in plek, maar sy reken daar is ruimte vir opgradering van die hokke en dit is belangrik dat die beeld van die DBV asook die personeel positief moet wees.
Om met die publiek te kan werk is ‘n belangrike eienskap van enige DBV-werknemer, want dit is hulle wat jou ondersteun sê Sonika. “Ons kry ook met baie uitdagings te doen, want ons werk volgens vasgestelde prosedures en reëls waarmee die publiek nie altyd saamstem nie. Dis altyd ‘n uitdaging om as middelman ‘n geskikte uitkoms vir ‘n situasie te kry” verduidelik sy verder.
Die een ding wat haar verskriklik hartseer maak is as mense uit onkunde of selfs arrogansie optree teenoor diere en hulle welstand – veral betreffende onoordeelkundige telery en as mense baba-hondjies vir ander mense gee sonder dat hulle weet of die mense lief is vir diere of behoorlik vir hulle sal kan sorg. “Dis ‘n groot probleem en ‘n bose kringloop” sê sy.
Sonika sê sy is baie opgewonde daaroor om ‘n goeie verhouding met die Lephalale-gemeenskap op te bou. Sy beplan ook bewusmakingsprojekte, uitreike, ens. Sy sê dat elke vrywilliger wat werk doen vir die DBV moet weet dat hulle onvervangbaar is en saam met hulle kan die DBV groot hoogtes bereik. Die komitee is vir haar van onskatbare waarde en sy bewonder hulle passie en deernis wat elkeen van hulle vir die diere het.
Maar natuurlik is haar eie twee worshonde haar gunsteling-diere op aarde!
Sonika bedank die hele gemeenskap uit haar hart: “sonder die publiek se ondersteuning en donasies kan geen DBV bestaan nie”. Sy doen ‘n beroep op almal wat weet van iets of iets sien wat nie reg is nie om dit onmiddellik onder haar aandag te bring. “Julle is ons oë en ore daar buite”.
Sonika kan geskakel word by 079 398 6784.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.