Sonpanele-verdagtes — twee in hof

TOM BURKE — Lede van die Heritage Protection Group (HPG), in samewerking met Tom Burke SAPD, het inligting opgevolg omtrent ʼn huisbraak waar onder andere sonpanele en batterye gesteel is op ʼn plaas in die Tom Burke area. ʼn Tweede verdagte is Sondagoggend 8 Julie in verband met dié voorval in Winterveld, Mabopane, gearresteer.

Volgens Sakkie Louwrens van HPG is die verdagte ʼn Zimbabwiese burger en hy is positief met die toneel verbind. “Skoene wat ooreenkom met die spore op die toneel is by hom gevind en hy het sekere dinge erken,” sê Louwrens.

Dié verdagte het Woensdag 11 Julie sy eerste hofverskyning in die Landdroshof in Lephalale gehad.

Die eerste verdagte in dié saak is verlede week by die Tom Burke/Lephalale T-aansluiting gearresteer nadat hy beheer verloor het oor die voertuig waarin die bewysstukke en gesteelde goedere vervoer was en die voertuig gerol het. Hy het Dinsdag 8 Julie in die Landdroshof in Lephalale verskyn vir ʼn borgaansoek.

Louwrens sê hulle is nog op die spoor van drie verdagtes in verband met dié saak en een van dié drie is ʼn kontrakwerker wat plaveiselstene op die plaas ter sprake gelê het. Hy is ook die persoon wat die inligting gelek het.

Die twee verdagtes wat gearresteer is, is in aanhouding by Tom Burke SAPD.

Die ondersoek duur voort.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.