Speke sing by Tour de Maroela

LEPHALALE — Die vierde en finale ronde van die Limpopo-bergfietsliga (Tour de Maroela) is Saterdag 15 September op ʼn baie warm dag by Hoërskool Ellisras gery en die speke het behoorlik gesing. Dit was die eerste keer dat dié kompetisie in Lephalale aangebied word.

Daniel en Ninke de Klerk van Laerskool Bosveld Primary verwerf albei Limpopokleure by die Tour de Maroela

Stanley Thompson, wat as aankondiger opgetree het, het Menno Glas en sy helpers asook mnr Adriaan Joubert, skoolhoof, spesiaal bedank vir die uitdagende 5,3 km baan vir hoërskoolkinders en 3 km vir laerskoolkinders met verskeie hindernisse wat uitgelê is.

Die vorige ligarondes was gehou by Hoërskool Merensky (Tour de Plaas), Hoërskool Pietersburg (Tour de Polokwane) en Stanford Lake College (Tour de Lake).

Die nasionale interskolefinaal word in Oktober by Hoërskool Bekker in Magaliesburg gehou. Alhoewel skole van Lephalale nie deurgedring het na die skolefinalebyeenkoms toe nie, was die dorp se hoër- en laerskoolleerders uitstekend verteenwoordig met 75 deelnemers.

Uitblinkers (top-10-deelnemers) van Lephalale was:

Daniel de Klerk (1e “sub nippers”), PG Steenekamp (9e “sub nippers”), Isabel du Plessis (5e “sub nippers”), Janli Bester (6e “sub nippers”), Ninke de Klerk (1e “nippers”), Inge von Rönge (4e “nippers”), Mikayla Bester (7e “nippers”), Albert von Rönge (4e “sprogs”), Clifton Classen (9e “sprogs”), Micaela Schoeman (7e “sprogs”), Jaco-Hein Botes (5e sub-junior), Simoné Steenekamp (4e sub-junior), Anika de Klerk (9e jeug), Menno Glas (7e junior seuns), Xander Higgo (9e junior seuns), Henja Glas (7e junior dogters).

Hoërskool Ellisras eindig derde in die byeenkoms en was aan die einde van die reeks in ʼn sesde plek uit 15 hoërskole. Laerskool Bosveld Primary eindig sesde en Laerskool Ellisras eindig 14e uit 23 laerskole aan die einde van die reeks.

Bergfietsry as ʼn skolesport het die afgelope jare baie toegeneem en dit is deesdae een van die meer gewilde sportsoorte. Skole van regoor die land neem jaarliks deel aan die Spur MTB-liga.

Johan van Dijkhorst en Stanley Thompson, as bestuurders, het vyf jaar gelede met slegs 45 ryers met bergfietsry in Limpopo begin en dit het so gegroei dat daar tans ongeveer 400 ryers uit 38 skole aan die Limpopoliga deelneem.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.