Spoegkobra slaan toe

LEPHALALE — “Dit gaan onder omstandighede goed met Anthea Wentzel (17) wat Donderdag 10 Januarie omstreeks 03:00 deur ʼn mosambiekse spoegkobra in haar bed gebyt is,” het dokter Willie Barnard teen druktyd gesê.

Mogol Pos het Anthea en haar ma, Susan Nel, Dinsdag 15 Januarie besoek nadat sy uit Mediclinic Lephalale ontslaan is om te hoor wat presies gebeur het en hoe dit met Anthea gaan.

“Ons het die slang reeds vroeër die aand in die huis gesien, dit het later onder die kombuiskaste verdwyn, maar ons het aanhou soek en later aangeneem die slang het êrens deur ʼn gat na buite ontsnap,” sê Susan.

Hulle het later gaan slaap.

“Ek het wakker geword van ʼn verskriklike brandpyn – dit het gevoel of daar ʼn warm kool op my arm is en dit hou net nie op brand nie. Ek het die slang gesien en my vriend, Riaan Scheepers (20), wat in ʼn ander kamer geslaap het, gaan roep. Toe hy die kombers van die bed af oplig het die slang hom in sy oë gespoeg,” vertel Anthea.

Anthea het self na Mediclinic gery met Riaan langs haar en Susan het saam met iemand anders gery. Daar het Anthea agt ampules teengif ontvang. Dr Barnard sê Riaan se oë is ook met ʼn heelwat flouer dosis teengif uitgespoel. Hy is reeds weer terug by sy werk.

Omdat hulle nie aan ʼn mediese fonds behoort nie, is Anthea rondom 16:30 Donderdag na Ellisras Provinsiale Hospitaal oorgeplaas.

Susan Pheiffer, ʼn vriendin van die familie, het intussen mense genader om geld te skenk sodat Anthea in Mediclinic Lephalale geopereer kon word. Die boodskap het soos ʼn veldbrand versprei op sosiale media en Grieshaber Steenekamp Prokureurs is genader om ʼn trustrekening te verskaf waarin skenkings kon inbetaal word.

“Teen Maandagoggend 14 Januarie het ons nog R12 000 gekort om genoeg te hê vir die operasie en ʼn weldoener, wat anoniem wil bly, het dadelik die R12 000 inbetaal. Ons sal hom ewig dankbaar wees,” sê Susan.

Anthea is later Maandagoggend in Mediclinic Lephalale opgeneem en dr Willie Barnard het haar geopereer.

Volgens dr Barnard was die skade minder as wat hy verwag het en hy skryf dit toe daaraan dat sy baie gou teengif ontvang het. Hy sê die wond was nie so diep soos hy gedink het nie en as sy na wense herstel kan sy dalk verdere operasies vryspring. Hy gaan Maandag 21 Januarie weer die wond oopmaak en dan sal hy ʼn besluit neem oor die pad vorentoe.

Dr Barnard sê dis baie tipies van mosambiekse spoegkobras om in mense se beddens te skuil, want hulle gaan agter liggaamshitte en koolsuurgas aan.

“ʼn Slapende persoon is dus die perfekte prooi,” sê dr Barnard.

Volgens hom is min mense bewus daarvan dat die byt van ʼn mosambiekse spoegkobra eintlik meer weefselskade veroorsaak as dié van ʼn pofadder.

Moontlike verdere mediese prosedures kan onder andere veloorplantings en plastiese chirurgie insluit, maar daaroor sal later besluit word.

Anthea is tans op sterk antibiotika om verdere infeksies hok te slaan en sy verduur baie pyn. Susan moes haar werk as kelnerin by SPUR vir eers prysgee sodat sy Anthea voltyds kan versorg en haar verlies aan inkomste het ʼn geweldige impak op hulle lewe.

Verdere bydraes kan inbetaal word in:
Grieshaber Steenekamp Prokureurs
FNB rekeningnommer: 62789235358
Lephalale-takkode: 231 232
Verwysing: Anthea

Susan en Anthea bedank elkeen wat hulle in hierdie tyd bygestaan het betreffende finansiële bystand, mediese bystand en emosionele ondersteuning. Sy bedank in besonder vir Susan Pheiffer wat die inisiatief geneem het om geld in te samel, beide Mediclinic Lephalale en Ellisras Provinsiale Hospitaal asook dr Willie Barnard wat Anthea geopereer en dr Gerhard Kritzinger wat sy dienste gratis aangebied het.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.