Sportsterre skitter — Gemengde Gevegskunssubseksie maak skoonskip

LEPHALALE — Die Sportster van die Jaar 2018-funksie, waartydens verskeie sportsubseksies en hulle lede vereer is, is Donderdagaand 7 Maart by Mogolklub se funksiesaal gehou.

Trofeewenners agter v.l.n.r.: Rudi van der Neut, Sarita du Plessis, Hanlie van Zyl, Thys Smith, Elmé Young, Jannie van der Walt en voor is Frikkie Brand, Dian Besseling en Johan Pretorius

Werdie van Staden, Sportster van die Jaar 2017, het die aand amptelik geopen met die seremoniële aansteek van die fakkel en dr Neels Gerber, algemene bestuurder van Mogolklub, het die verrigtinge waargeneem.

Die gasspreker van die aand was die 68-jarige Comradesatleet, Louis Massyn, wat gaste op humoristiese wyse toegespreek en hoogtepunte uit sy lewe as atleet gedeel het. Sy eerste deelname aan die Comrades was in 1973 en hy sal vanjaar vir die 47ste agtereenvolgende keer aan die Comrades deelneem. Hy neem verder deel aan verskeie ander marathons en ultra-marathons, plaaslik en in die buiteland, en het reeds 124 000 km kafgedraf.

Brons-, silwer en goue medaljes is uitgedeel aan atlete wat op verskillende vlakke presteer het.

Trofeewenners was as volg:

  • Matimba Kragstasie-trofee vir Administrateur van die Jaar gaan aan die Perdrysubseksie en is ontvang deur Sarita du Plessis;
  • Medupi Kragstasie-trofee vir Beampte van die Jaar is toegeken aan Thys Smith vir die Gemengde Gevegskunssubseksie;
  • Lephalale Munisipaliteit-trofee vir Sportsubseksie vir die Jaar het gegaan aan die Perdrysubseksie en is deur Rudi van der Neut, voorsitter daarvan in ontvangs geneem;
  • Machauka Lodge-trofee vir die junior Sportman van die Jaar is gedeel deur Gemengde Gevegskunslede, Frikkie Brand, Dian Besseling en Johan Pretorius;
  • Elite Mica-trofee vir Veterane Sportvrou van die Jaar is gewen deur Hanlie van Zyl – Gemengde Gevegskunssubseksie;
  • Lewies and Incorporated-trofee vir Veterane Sportman van die Jaar het gegaan aan Thys Smith van die Gemengde Gevegskunssubseksie; en
  • Die gesogte Ben Alberts-trofee vir Sportster van die Jaar 2018 is toegeken aan Hanlie van Zyl. Sy wen ’n goue medalje, twee silwer medaljes en ’n brons medalje tydens die 2018 VSA Gemengde Gevegskuns-Wêreldkampioenskappe.

’n Spesiale toekenning is hierdie jaar vir die eerste keer toegeken vir die Sportsubseksie wat die meeste lede gehad het wat nasionaal deelgeneem het en dit het gegaan aan die
Gemengde Gevegskunssubseksie.

Daar was geen nominasies vir Junior Sportvrou, Senior Sportvrou en –man vir die jaar gewees nie.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.