Springlewendige wonderwerke

Jannie Snyders en Tiaan Geldenhuys is weer springlewendig
Jannie Snyders en Tiaan Geldenhuys is weer springlewendig

Leoni Kruger
LEPHALALE — As daar twee dinge is wat Jannie Snyders en Tiaan Geldenhuys in gemeen het, is dat hulle die gemeenskap van Lephalale laat bid het. En weer in wonderwerke laat glo het. Want dat dié twee manne wat Maandagoggend springlewendig voor my sit in die personeelkamer van Hoërskool Ellisras twee wonderwerke is, is gewis.

 Jannie was op 25 Mei verlede jaar in ‘n mikroligte vliegtuigongeluk betrokke waarna hy vir twee weke in die intensiewe sorgeenheid van die Muelmedhospitaal in Pretoria vir sy lewe geveg het. Sy oom, Wynand, die vlieënier, het nie die ongeluk oorleef nie.
 Dié datum is vir ewig in sy geheue ingeprent, sê hy. Maar al wat hy van dié dag kan onthou, is dat hulle nog “so ‘n laaste draai” oor die plaas wou vlieg. Hy onthou hulle het laag gevlieg en dat die mense van onder af vir hulle gewaai het. Daarna niks. Totdat hy weke later in die hospitaal uit ‘n geïnduseerde koma wakker geword het. Hy het baie hoofbeserings gehad en sy regternier moes verwyder word. “My nier was flenters” sê hy. Hy het later gehoor dat die tuig ‘n kragdraad getref het…
 Die nadraai van die ongeluk was dat sy korttermyngeheue nie wou saamwerk nie.
 Die 18-jarige Jannie het egter volkome herstel en is vanjaar in graad 11 met Geografie sy gunstelingvak. Die skooljaar wat hy moet oordoen is die minste, sê hy. Hy is gesond en is positief oor sy lewe wat voorlê. Die enigste nadeel is dat hy nooit weer aan enige impaksport mag deelneem nie en dat hy geen drankie behalwe ‘n “dubbel-Oros op klippies” sal kan drink nie…
 Tiaan Geldenhuys het in Desember 2014 ‘n beroerte-aanval gehad tydens ‘n rugbywedstryd in Nederland. Hy was op ‘n rugbytoer en ‘n belowende sporttoekoms het vir hom gewink. Tiaan sê hy kan presies onthou wat gebeur het. “Ek het gehardloop en moes die bal links aangegee het. Die volgende oomblik het ek op die veld gelê. Seker vir so 7-10 minute, maar ek kon alles hoor wat almal om my sê. Ek kon net nie praat nie” sê hy.
 Tiaan is in die vreemde in ‘n hospitaal opgeneem, waarna sy pa inderhaas soontoe gevlieg het om by hom te wees. “Dit was toe sommer al klaar beter” sê hy. Hy is later, nadat die dokters gesê het dit is veilig, na Suid-Afrika oorgeplaas. Sy lot was ‘n rehabilitasieprogram by die Little Company of Mary Hospitaal in Pretoria, “waarvan ek niks gehou het nie”. “Ek moes van voor af leer om hoe om die toilet te gebruik, hoe om te loop, praat, skryf…”
 Vandag praat Tiaan vlot, hy is in graad 11 en baie positief oor sy herstelpad en toekoms. “Solank ek elke dag my pilletjie drink wat my bloed dun hou, sal ek gesond bly” sê hy.
 Dit is vanselfsprekend dat Tiaan nie weer die kans sal vat om enige impaksport te doen nie, maar sy nuwe liefde is gholf. Hy sê dat hy na matriek graag professioneel sal wil gholf speel. En ja, sy gunstelingvak is Wiskunde!
 Om te dink daar was meer as een dag wat meer as een mens gedink het daar is geen toekoms vir dié twee jong manne nie. Ware wonderwerke.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.