Staan saam in sekuriteit

Kassie Knoetze praat by die Waterberg Nature Conservancy vergadering op Donderdag 23 Junie in Vaalwater
Kassie Knoetze praat by die Waterberg Nature Conservancy vergadering op Donderdag 23 Junie in Vaalwater

VAALWATER — Lede van die Waterberg Nature Conservancy het Donderdag 23 Junie by die NG Kerk in Vaalwater bymekaargekom vir hul vergadering.
Kassie Knoetze (direkteur van veiligheid vir Welgevonden Privaat Wildreservaat), het gepraat oor renosterstropery asook die algemene veiligheid van mense in die Waterbergomgewing.
“Almal het hulle eie opinie oor hoe om renosterstropery te beëindig en wat benodig word om dit effektief te kan doen. Niemand se opinie of plan is verkeerd nie, maar ek glo dit is hoe ons dit benader wat op die einde sal bepaal of dit effektief sal wees of nie,” het Knoetze gesê.
“Ons bly in die Waterberg, ʼn area met mense wat oneindige vermoëns en idees het. Die tyd van alleen staan is verby, veral onder reservate wat dieselfde doel as Welgevonden het, beskerming van nie net renosters nie, maar algemene veiligheid waarvan renosterstropery ʼn deel is,” het Knoetze verder verduidelik.
“Ons is besig om ʼn gesamentlike operasiesentrum op te rig in Welgevonden om die area se risiko’s te bepaal om sodoende te kan verstaan waar ons risiko’s vandaan kom en hoe om dit te bekamp.”
“Ons is tans besig om sisteme te toets saam met internasionale instansies om te verseker dat ons die beste sisteme in plek kry om veiligheid te bevorder. ‘n Deel van die beplanning van die gesamentlike operasiesentrum is om 24 CCTV kameras op strategiese plekke rondom ons area te laat installeer wat 24 uur germonitor sal word deur die gesamentlike operasiesentrum.
Die algehele doel van die praatjie was ook om aan plaaseienaars oor te dra dat hulle gesamentlik deel moet raak van die stryd teen sekuriteitprobleme en nie alleen moet probeer staan teen stropers en ander misdaad nie.
Volgens Knoetze is olifantstropery ook aan die toeneem, maar geen gevalle is nog in die Waterbergomgewing aangemeld nie.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.